1So sê die Here: “Handhaaf die reg en tree billik op, want my verlossing is naby, dit kom; en my geregtigheid is op hande, dit word geopenbaar.
2Gelukkig is die mens wat dit doen, die mensekind wat daarby hou, hy wat die Sabbat onderhou deur dit nie te ontheilig nie, wat sy hand daarvan weerhou om enigiets verkeerds te doen.
3Die nakomeling van 'n vreemde wat hom aan die Here verbind het, mag nie sê, ‘Die Here sal my beslis van sy volk afskei’ nie. 'n Eunug moet nie sê, ‘Kyk, ek is 'n droë boom’ nie.
4Want so sê Ek, die Here, vir die eunugs, vir dié wat wel my Sabbatte onderhou, wat dit kies waarin Ek vreugde vind, en wat vashou aan my verbond:
5Ek sal vir hulle iets gee wat beter is as seuns en dogters: In my •tempel en teen my mure sal Ek hulle gedenk met 'n teken en 'n naam. 'n Ewige naam sal Ek aan hulle gee wat nie uitgewis sal word nie.
6“En die nakomelinge van 'n vreemde wat hulle aan die Here verbind het om Hom te dien, om die Naam van die Here lief te hê en om sy dienaars te word – almal wat die Sabbat onderhou deur dit nie te ontheilig nie, en wat vashou aan my verbond –
7hulle sal Ek na my heilige berg bring; en Ek sal hulle vreugde laat ervaar in my huis van gebed. Hulle •brandoffers en •maaltydoffers sal aanvaarbaar wees op my altaar. Ja, my huis sal genoem word 'n huis van gebed vir al die volke. ”
8Die uitspraak van my Heer, die Here, Hy wat die verstrooides van Israel byeenbring, is: “Ek sal by Israel nog meer byeenbring as wat reeds by hom byeengebring is.”
9Al julle wilde diere van die veld, kom om te verslind! Ja, kom, al julle wild in die bos!
10Israel se wagte is almal blind, hulle neem niks waar nie. Hulle is almal stom honde, hulle kan nie blaf nie; hulle lê daar en maak geluide, hou daarvan om te sluimer.
11Die honde is vraatsugtig, hulle ken nie versadiging nie. Hulle is die herders! Hulle kan nie verstaan nie. Hulle is almal gerig op hulle eie pad, elkeen op sy eie voordeel, sonder uitsondering.
12“Kom!” sê een, “ek sal wyn gaan haal; kom ons word dronk van sterk drank! Die dag van môre sal net soos hierdie een wees – 'n buitengewone groot dag.