Isaiah 28
1 Wee die trotse kroon van die dronkes van Efraim! Dit is 'n verwelkende blom, sy pragtige sieraad aan die bopunt van 'n vrugbare vallei. Wee hulle wat deur wyn oorweldig is!
2 Kyk, my Heer het iemand wat sterk en kragtig is – soos 'n wolkbreuk met hael, soos 'n vernietigende storm. Soos 'n wolkbreuk met kragtige, verspoelende water sal hy dit teen die grond gooi met mag.
3 Dit sal met voete vertrap word – die trotse kroon van die dronkes van Efraim.
4 Die verwelkende blom, sy pragtige sieraad aan die bopunt van 'n vrugbare vallei, sal soos een van die vallei se vroeë vye voor die someroes wees. Dit is skaars in sy handpalm, of die een wat dit raakgesien het, sluk dit weg.
5 Op daardie dag sal die Here, Heerser oor alle magte, 'n sierlike kroon, 'n eervolle krans word vir die oorblyfsel van sy volk.
6 Hy sal 'n gees van geregtigheid wees vir hulle wat gaan sit vir die regspraak, en heldekrag vir hulle wat die geveg terugdryf na die stadspoort.
7 Ook hierdie mense slinger van wyn en waggel van sterk drank: Priester en profeet slinger van sterk drank, hulle is verwar deur wyn, hulle waggel van sterk drank; hulle slinger tydens 'n visioen, hulle steier tydens 'n uitspraak.
8 Ja, alle tafels is vol braaksel, vomeersel, sonder 'n skoon plek.
9 Vir wie wil hy dan kennis leer, vir wie die boodskap verduidelik? Vir hulle wat van melk gespeen is, van die borste afgehaal is?
10 Die boodskap is: “ Saw lasaw, saw lasaw, kaw lakaw, kaw lakaw; 'n bietjie hier, 'n bietjie daar. ”
11 Ja, deur honende lippe en deur 'n vreemde taal sal die Here met hierdie volk praat –
12 Hy wat vir hulle gesê het: “Hier is die rusplek. Gee rus aan die een wat uitgeput is! Hier is die verposing.” Maar hulle wou nie luister nie.
13 Daarom sal die woord van die Here vir hulle wees: “ Saw lasaw, saw lasaw, kaw lakaw, kaw lakaw; 'n bietjie hier, 'n bietjie daar, sodat hulle gaan en agtertoe struikel, gebreek, verstrik en gevang word.”
14 Daarom, hoor die woord van die Here, julle spotters, regeerders van hierdie volk in Jerusalem!
15 Ja, julle sê: “Ons het 'n verdrag met die dood gesluit, met die •doderyk 'n ooreenkoms aangegaan. Wanneer die verswelgende vloed verbykom, sal dit ons nie bereik nie; want ons het leuens ons skuilplek gemaak, en agter bedrog kruip ons weg.”
16 Daarom, so sê my Heer, die Here: “Kyk, Ek lê 'n fondamentklip in Sion, 'n uitgesoekte klip – 'n kosbare hoeksteen as fondament gelê. Die een wat vertrou, hoef nie haastig weg te gaan nie.
17 Ek maak die reg 'n maatlyn en geregtigheid 'n skietlood. Hael sal die skuilplek van leuens wegvee, en water sal die wegkruipplek wegspoel.
18 Julle verdrag met die dood sal nietig verklaar word, en julle ooreenkoms met die doderyk sal nie standhou nie. Wanneer 'n verswelgende vloed verbykom, sal julle 'n vertrapte moddermassa word.
19 Telkens wanneer dit verbykom, sal dit julle meesleur. Ja, oggend ná oggend, dag en nag sal dit verbykom. Dit sal net te verskriklik wees om die boodskap te verduidelik.
20 Die bed is immers te kort om op uit te strek, en die kombers te smal om jouself in toe te wikkel.”
21 Ja, soos by die berg Perasim sal die Here opstaan; soos by die vallei in Gibeon sal Hy bewe van ywer om sy dade uit te voer – vreemd is sy dade – en om sy werk te doen – sonderling is sy werk.
22 Moet julle dan nou nie soos spotters gedra nie; anders sal julle boeie nog stywer vas wees. Ja, ek het gehoor: Volslae vernietiging oor die hele land! Dit is bepaal deur my Heer, die Here, Heerser oor alle magte.
23 Gee aandag en luister na my stem! Gee ag en luister na my woorde!
24 Sal 'n boer die hele tyd ploeg om te saai? Sal hy aanhou voortjies maak en sy grond gelyk werk?
25 Sal hy nie, as hy die oppervlakte gelyk gemaak het, swartkomyn strooi en komyn uitsaai, koring in rye plant, en gars waar dit hoort, en spelt aan die kant nie?
26 Sy God het hom die regte manier geleer, hom onderrig.
27 Swartkomyn word tog nie met 'n dorsplank gedors nie; en die wiel van 'n wa word nie oor komyn gerol nie. Nee, swartkomyn word met 'n stok uitgeklop, en komyn met 'n staf.
28 Broodkoring word fyngestamp – daar word nie vir ewig aangehou om dit uit te trap nie. As iemand sy wawiel en perde daaroor laat gaan, laat hy dit tog nie fyn trap nie.
29 Ook dit het sy oorsprong by die Here, Heerser oor alle magte. Hy voer 'n plan wonderbaarlik uit, Hy doen dit met groot vindingrykheid.