Bible

Power Up

Your Services with User-Friendly Software

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Isaiah 27

:
Afrikaans - AFR20
1 Op daardie dag sal die Here met sy wrede en groot en sterk swaard rekenskap eis van Leviatan, die vinnige slang, van Leviatan, die kronkelende slang. Die monster wat in die see is, sal Hy doodmaak.
2 Op daardie dag sal daar 'n pragtige wingerd wees. “Sing daaroor!
3 Ek, die Here, hou daaroor wag, gee dit telkens water. Sodat niks dit skade aandoen nie, hou Ek dag en nag daaroor wag.
4 Ek is nie meer woedend nie. As Ek doringstruike en onkruid sou vind, sou Ek 'n stryd daarmee aanknoop; Ek sou dit alles saam aan die brand steek.
5 Of anders sou hulle moes vasgryp aan die toevlug wat Ek bied, met My vrede maak, ja, vrede met My maak.”
6 In die tye wat kom, sal Jakob wortel skiet; Israel sal in bloei staan en uitspruit. Die oppervlakte van die aarde sal bedek wees met die opbrengs.
7 Het die Here Israel geslaan soos Hy dié geslaan het wat vir Israel geslaan het? Of is Israel om die lewe gebring op dieselfde manier as dié wat deur die Here om die lewe gebring is?
8 Deur haar prys te gee, haar weg te stuur, het U telkens met haar geworstel. Op die dag van die oostewind, het die Here haar met sy sterk wind weggedryf.
9 Daarom, op hierdie manier word versoening gedoen vir die sondeskuld van Jakob; en dít sal die uitkoms wees van die wegneem van sy sonde: Wanneer hy al die altaarklippe laat word soos kalkklippe wat stukkend geslaan is, sal die asjeras en wierookaltare nie langer bly staan nie.
10 Ja, 'n stad wat versterk was, eensaam, 'n weiveld wat versaak en agtergelaat is, soos 'n woestyn. Kalwers wei daar, en daar gaan hulle lê; hulle verwoes haar lote.
11 Wanneer haar takke verdroog het, sal hulle afgebreek word; vroue sal kom en dit aan die brand steek. Ja, dit is nie 'n verstandige volk nie; daarom sal hulle Maker Hom nie oor hulle ontferm nie, sal die Een wat hulle gevorm het, geen genade aan hulle betoon nie.
12 Op daardie dag sal die Here are uitslaan, vanaf die stroom van die Rivier tot by die Spruit van Egipte. Julle, Israeliete, sal soos are opgetel word, een vir een.
13 Op daardie dag sal daar op 'n groot •ramshoring geblaas word; en hulle wat verlore is in die land Assirië, en verdryf is na Egipteland, sal kom. Hulle sal voor die Here in aanbidding buig op die heilige berg in Jerusalem.