Isaiah 29
1 “Wee Ariël, Ariël, die stad wat Dawid beleër het! Laat jaar op jaar volg! Laat die feeste hulle kringloop volg!
2 Maar Ek sal Ariël in benoudheid bring, sodat daar verdriet en droefheid sal wees. Dan sal sy vir My soos 'n vuurherd wees.
3 Ek sal jou reg rondom beleër, Ek sal jou met wagposte omring, beleëringswerke teen jou oprig.
4 Jy sal verneder wees, uit die grond sal jy praat, uit die stof sal jou woorde gedemp wees. Soos dié van 'n waarsêergees, sal jou stem uit die grond kom, en uit die stof sal jou woorde gefluister word.
5 Die menigte vreemdes by jou sal soos fyn stof word, en soos kaf wat verwaai die menigte geweldenaars. Dit sal heel onverwags gebeur.
6 Van die kant van die Here, Heerser oor alle magte, sal daar afgereken word, deur donderslae en aardbewings, deur harde geluide, deur storm en stormwind, met verterende vuurvlamme.
7 Dit sal wees soos in 'n droom, soos in 'n naggesig – die menigte van al die nasies wat teen Ariël veg, almal wat haar en haar versterkte vestings beveg, hulle wat haar in die noute bring.
8 Dit sal wees soos wanneer 'n honger mens droom: Kyk, hy is besig om te eet; maar as hy wakker word, is sy keel leeg. Dit sal wees soos wanneer 'n dors mens droom: Kyk, hy is besig om te drink; maar as hy wakker word, is hy uitgeput en sy keel is droog. So sal dit met die menigte van al die nasies wees, hulle wat veg teen die berg Sion.”
9 Wees maar verslae, verstom! Hou julle blind, en wees verblind! Hulle het dronk geword, maar nie van wyn nie. Hulle het gesteier, maar nie van sterk drank nie.
10 Ja, die Here het 'n gees van diepe slaap oor julle uitgestort, Hy het julle oë, die profete, gesluit; julle koppe, die sieners, het Hy bedek.
11 Vir julle het die openbaring van al hierdie dinge geword soos die woorde van 'n verseëlde boekrol, wat hulle gee aan iemand wat kan lees, en sê: “Lees dit asseblief!” Dan sê hy: “Ek kan nie, want dit is verseël.”
12 Die boekrol word dan gegee aan iemand wat nie skrif ken nie, met die woorde: “Lees dit asseblief!” Dan sê hy: “Ek ken nie skrif nie.”
13 My Heer het gesê: “Omdat hierdie volk My nader met hulle mond en met hulle lippe My eer, maar hulle hart ver is van My, en hulle ontsag vir My bloot 'n aangeleerde menslike gebod,
14 daarom, kyk, Ek sal voortgaan om op 'n wonderlike, wonderbaarlike manier met hierdie volk te handel. Die wysheid van hulle wyses sal tot niet gaan, en die insig van hulle verstandiges sal verborge bly.”
15 Wee hulle wat planne vir die Here diep wegsteek! Hulle dade vind in die donker plaas, en hulle sê: “Wie sien ons en wie ken ons?”
16 Julle verdraai alles! Of moet die pottebakker beskou word as gelykwaardig met die klei, dat die maaksel vir sy maker kan sê, “Jy het my nie gemaak nie”, en dit wat gevorm is vir die pottebakker sê, “Hy verstaan nie”?
17 Is dit nie nog net 'n rukkie nie, dan verander die Libanon in 'n vrugteboord, en word die vrugteboord as 'n bos beskou?
18 Die dowes sal op daardie dag die woorde van 'n boekrol hoor. Sonder donkerte en duisternis, sal die oë van blindes sien.
19 Magteloses sal weer vreugde ervaar in die Here, en behoeftige mense sal juig oor die Heilige van Israel.
20 Want gewelddadiges is nie meer daar nie, en spotters is tot niet; almal wat gereed staan om onreg te doen, word uitgeroei –
21 hulle wat mense deur woorde as sondaars brandmerk, wat strikke stel vir dié wat mense in die stadspoort teregwys, en wat oor nietighede regverdiges dwarsboom voor die gereg.
22 Daarom, so sê die Here vir die huis van Jakob, Hy wat Abraham gered het: “Nou sal Jakob nie meer beskaamd staan, sy gesig nie meer bleek word nie.
23 Want wanneer hulle hulle kinders, die werk van my hande, in hulle midde sien, sal hulle my Naam heilig. Hulle sal die Heilige van Jakob se heiligheid erken, en vrees koester vir die God van Jakob.
24 Dan sal hulle wat verbyster van gees is, insig leer ken, en hulle wat gemurmureer het, sal onderrig aanvaar.