Isaiah 24AFR20

1Kyk, die Here gaan die land kaal stroop en dit verniel; Hy gaan sy oppervlakte skend, sy inwoners uitmekaar jaag.

2Dit sal met priesters gaan soos met die volk, met hulle eienaars soos met slawe, met hulle eienaresse soos met slavinne, met verkopers soos met kopers, met leners soos met uitleners, met skuldenaars soos met geldskieters.

3Die land word heeltemal kaal gestroop, volledig geplunder. Ja, die Here, Hy het hierdie uitspraak gemaak.

4Die aarde verdroog, dit verskrompel; die bewoonde wêreld kwyn weg, dit verskrompel. Die vername mense van die aarde kwyn weg.

5Die aarde lê besoedel onder sy inwoners: Hulle het wette oortree, vaste voorskrifte die rug toegekeer, 'n ewige verbond verbreek.

6Daarom verteer 'n vloek die aarde, en boet dié wat daarop woon. Daarom word die bewoners van die aarde minder, en bly daar weinig sterflinge oor.

7Die •nuwe wyn het opgeraak, wingerde kwyn weg, almal wat vrolik van hart was, sug.

8Die vreugde van die tamboeryn het opgehou, die gejoel van uitgelate mense het tot 'n einde gekom, die vreugde van die lier het opgehou.

9Geen lied meer wanneer wyn gedrink word nie – sterk drank is bitter vir wie dit drink.

10Die leë stad lê verbreek – elke huis geslote, ontoeganklik.

11Daar is 'n gejammer oor wyn in die strate; alle blydskap het weggesink, verban is die vreugde van die land.

12Wat in die stad oor is, is 'n skrikbeeld; tot 'n murasie is die stadspoort verpletter.

13Ja, so sal dit midde-in die land tussen die volke wees – soos met die afslaan van olywe, soos met oesreste as die druiweoes verby is.

14Dit is hulle wat hardop sal jubel. Oor die verhewenheid van die Here sal hulle uitroep uit die weste.

15Daarom, vereer die Here in die land van die môrelig! Vereer in die eilande van die weste die Naam van die Here, die God van Israel.

16Van die uithoeke van die aarde af hoor ons liedere – 'n sieraad vir die Regverdige. Maar ek sê: “Dit is klaar met my! Dit is klaar met my! Wee my!” Verraderlike mense is ontrou; verraderlike mense pleeg verraad.

17Verskrikking, 'n vanggat, 'n vangnet wag op julle, bewoners van die aarde.

18Wie vlug vir die geluid van verskrikking, val in die vanggat; wie uitklim uit die vanggat, word gevang in die vangnet. Want vensters in die hemel is oopgemaak, die fondamente van die aarde bewe.

19Al krakend bars die aarde uitmekaar, al waggelend wankel die aarde, steierend slinger die aarde heen en weer.

20Onvas steier die aarde soos 'n dronke, ruk heen en weer soos 'n takskerm. Sy oortreding rus swaar op hom; hy val en staan nie weer op nie.

21Op daardie dag sal die Here afreken, in die hemel, met die hemelliggame, op die aarde, met die konings van die aarde.

22Hulle sal byeengebring word vir opsluiting, as gevangenes in 'n put – toegesluit in 'n kerker. Ná 'n lang tyd sal met hulle afgereken word.

23Die volmaan sal verleë wees, die helder son sal beskaamd staan. Want die Here, Heerser oor alle magte, regeer op die berg Sion en in Jerusalem, en voor sy oudstes in heerlikheid.

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Isaiah 24.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.