1Profesie oor Tirus. Weeklaag, handelskepe! Want dit is verwoes, sonder huise, sonder toegang. In die land van die Kittiërs is aan hulle berig gebring.
2Wees stil, bewoners van die eiland! Handelaars van Sidon wat die see oorsteek, het jou, Tirus, gevul.
3Met die groot waters langs was die saad van Sigor, ja, die oes van die Nyl, haar inkomste – dit was wins uit die nasies.
4Skaam jou, Sidon! Want, toevlugsoord van die see, die see sê: “Ek het nie ineengekrimp, nie geboorte gegee nie; ek het nie jong manne grootgemaak, nie jong meisies opgevoed nie.”
5Wanneer die berig Egipte bereik, krimp hulle ineen soos met die tyding oor Tirus.
6Vaar oor na Tarsis! Weeklaag, bewoners van die eiland!
7Is dít julle uitgelate stad? In die verre verlede lê haar oorsprong; haar voete het haar gedra om tydelik ver weg te woon.
8Wie het so teen Tirus besluit, sy wat krone uitdeel, wie se handelaars •hoë amptenare is, wie se handelslui die geëerdes van die wêreld is?
9Die Here, Heerser oor alle magte, het so besluit – om die hoogmoed van al die hoëlui te knou, om al die geëerdes van die wêreld met minagting te behandel.
10Bewerk jou grond soos by die Nyl, dogter van Tarsis! Daar is geen skeepswerf meer nie.
11Sy hand het Hy oor die see uitgestrek; Hy het koninkryke laat bewe. Die Here self het 'n opdrag gegee oor Kanaän – dat sy vestings verdelg moet word.
12Hy het gesê: “Jy sal nie meer uitgelate wees nie, onteerde maagdelike dogter van Sidon. Die Kittiërs, as jy gereedmaak, na hulle oorvaar – ook daar sal jy geen rus hê nie.”
13Kyk, die land van die Galdeërs – dié volk bestaan nie meer nie. Assirië het dit vir woestyndiere bestem: Hulle het beleëringstorings opgerig; hulle het die land se vestings gesloop, dit 'n bouval gemaak.
14Weeklaag, handelskepe! Want julle toevlugsoord is verwoes.
15Op daardie dag sal Tirus vergete raak, sewentig jaar lank, soos die lewensdae van een koning. Aan die einde van sewentig jaar sal dit met Tirus gaan soos in die lied oor die prostituut:
16“Neem 'n lier, deurkruis die stad, vergete prostituut; bespeel dit goed, sing baie liedjies, sodat jy onthou word!”
17Ná verloop van sewentig jaar sal die Here aan Tirus aandag gee. Sy sal terugkeer na haar hoereloon, sy sal hoereer met al die koninkryke van die wêreld oor die oppervlakte van die aarde heen.
18Haar handelswins en hoereloon sal aan die Here gewy wees. Dit sal nie opgegaar of weggesit word nie, maar aan hulle wat in die teenwoordigheid van die Here woon, sal haar wins behoort, sodat hulle genoeg kan eet en pragtig geklee kan gaan.