Bible

Power Up

Your Services with User-Friendly Software

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Isaiah 22

:
Afrikaans - AFR20
1 'n Profesie oor die Dal van Visioene. Wat is dit dan met jou, dat al jou mense op die dakke klim,
2 rumoerige stad vol lawaai, uitgelate dorp? Jou slagoffers is nie slagoffers van die swaard nie, nie gestorwenes van die oorlog nie.
3 Al jou •aanvoerders het saam gevlug, sonder boog is hulle gevang. Almal van jou wat gevind is, wat lankal reeds gevlug het, is saam gevang.
4 Daarom het ek gesê: “Kyk weg van my ek huil bitterlik. Moenie daarop aandring om my te probeer troos oor die verwoesting van die dogter van my volk nie.”
5 Want 'n dag van paniek, van vertrapping en verwarring in die Dal van Visioene, is gereed by die Here, Heerser oor alle magte. 'n Geskreeu klink op hulpkrete na die berg.
6 Elam het pylkokers opgeneem met 'n troepemag, met perde. Kir ontbloot skilde.
7 Stad, die keur van jou valleie is vol strydwaens! Die ruiters neem in slagorde stelling in by die stadspoort!
8 Die beskutting van Juda is verwyder. Op dié dag kyk jy met vertroue, stad, na die wapenrusting in die Saal van die Bos.
9 Die bresse in die mure by die Stad van Dawid sien julle raak dat dit baie is. Julle gaar die water van die onderste dam op;
10 die huise in Jerusalem tel julle; julle breek die huise af om die stadsmuur ondeurdringbaar te maak.
11 'n Opgaardam maak julle tussen die twee stadsmure vir die water van die ou dam. Maar julle kyk nie met vertroue na Hom wat die stad gemaak het nie; en Hom wat haar gevorm het in die verre verlede, sien julle nie raak nie.
12 My Heer, die Here, Heerser oor alle magte, het op daardie dag 'n oproep gedoen tot 'n gehuil, tot roubeklag, tot die kaal skeer van koppe en die aangord van rouklere.
13 Maar kyk, daar is vreugde en blydskap: “Laat ons beeste doodmaak en kleinvee slag, vleis eet en wyn drink! Laat ons eet en drink, want môre sterf ons!
14 Die Here, Heerser oor alle magte, het Hom aan my geopenbaar terwyl ek luister. “Vir hierdie sondeskuld sal nie vir julle versoening gedoen word totdat julle sterf nie,” het die Here, Heerser oor alle magte, gesê.
15 So my Heer, die Here, Heerser oor alle magte: “Gaan na daardie versorger, na Sebna, hoof van die hofhouding, en vra hom,
16 ‘Wat maak jy hier? Wie van jou mense is hier, dat jy hier vir jou 'n graf uitgekap het?’ Hy was besig om op 'n hoë plek sy graf uit te kap, om in die rots vir hom 'n tuiste uit te beitel.
17 ‘Kyk, die Here gaan jou, manhaftige man, baie ver wegwerp. Hy gaan jou stewig toedraai,
18 jou in 'n bondel, soos 'n bal, kragtig wegslinger na 'n land wat wyd uitstrek na alle kante. Daar sal jy sterf; daar sal jou roemryke strydwaens wees die skande van die huis van jou heer!
19 Ek sal jou uit jou pos verwyder, jy sal uit jou amp ontslaan word.’
20 “Op daardie dag sal Ek my dienskneg roep, Eljakim, seun van Gilkija.
21 Ek sal jou bokleed vir hom aantrek, met jou lyfserp sal Ek hom versterk, jou gesag aan hom oordra. Hy sal 'n vader word vir die inwoners van Jerusalem en vir die huis van Juda.
22 Ek sal die sleutel van die huis van Dawid op sy skouer plaas. Hy sal oopmaak, en niemand sal toesluit nie; hy sal toesluit, en niemand sal oopmaak nie.
23 Ek sal hom as 'n pen inslaan op 'n stewige plek; hy sal as 'n roemryke troon geld vir sy familie.
24 “Hulle sal die volle gewig van sy familie daaraan ophang: die spruite en lote, en al die kleiner houers, van die bakkies af tot by al die kruike.
25 Op daardie dag,” is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte, “sal die pen wat op 'n stewige plek ingeslaan is, meegee. Dit sal losbreek en val. Die las wat daaraan was, sal vernietig word, want die Here het gespreek.”