Bible

Designed

For Churches, Made for Worship

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Isaiah 21

:
Afrikaans - AFR20
1 Profesie oor die woestyn by die see. Soos stormwindvlae in die Negev kom hy uit die woestyn, uit 'n vreesaanjaende land.
2 'n Onverbiddelike openbaring is my meegedeel: “Die verraaier pleeg verraad, die verwoester verwoes. Ruk op, Elam! Medië, beleër! Aan al die gesug maak Ek 'n einde.”
3 Daarom is my heupe aan die sidder en oorval krampe my soos die krampe van 'n vrou wat geboorte gee. Ek krimp ineen oor wat ek hoor, ek is angsbevange oor wat ek sien.
4 My hart is verbyster; ontsetting het my oorval. Die skemeraand, kosbaar vir my, het vir my angs gebring.
5 Dek die tafel, pak die kussings reg, eet, drink staan op, bevelvoerders! Smeer die skilde met olie!
6 Want so het my Heer vir my gesê: “Gaan sit 'n wag uit! Oor wat hy sien, moet hy berig.
7 Wanneer hy strydwaens sien met spanne perde, ruiters op donkies, ruiters op kamele, moet hy noulettend aandag gee, baie noulettend.”
8 Die een wat op die uitkyk was, roep toe: “Op my uitkykpos, my Heer, staan ek heeldag lank, op my wagpos neem ek stelling in, nag vir nag.
9 Kyk daar! 'n Man op 'n strydwa met 'n span perde is op pad!” Hy begin toe praat en sê: “Geval, geval het Babel, en al die beelde van sy gode stukkend op die grond!
10 My vertrapte volk, deel van my dorsvloer, wat ek gehoor het van die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, het ek julle meegedeel.
11 Profesie oor Duma. Iemand roep na my uit Seïr: “Brandwag, hoe lank is die nag nog? Brandwag, hoe lank is die nag nog?”
12 Die brandwag antwoord: “Die môre kom, maar ook weer die nag. As julle vrae het, vra! Kom weer terug!”
13 Profesie in die woestyn. In die ruigte in die woestyn, moet julle oornag, karavane van die mense van Dedan.
14 Bring water om dié wat dors het, te ontmoet. Julle wat in die gebied van Tema woon, gaan die vlugtelinge tegemoet met kos vir hulle.
15 Want vir swaarde het hulle gevlug, vir die ontblote swaard, vir die gespanne boog, vir die geweld van oorlog.
16 Ja, so het my Heer vir my gesê: “Binne 'n jaar, bereken soos die jare van 'n huurarbeider, sal al die luister van Kedar tot 'n einde kom.
17 Wat oorbly van die helde van Kedar se boë, sal min in getal wees.” Ja, die Here, die God van Israel, het gespreek.