1Here, U is my God. Ek verheerlik U, ek prys u Naam; want U het wonders gedoen – planne uit die verre verlede bestendig en betroubaar uitgevoer.
2Ja, U het van 'n stad 'n kliphoop, van 'n versterkte stad 'n vervalle plek gemaak. Die vesting van vreemdes is nie meer 'n stad nie; dit sal nooit herbou word nie.
3Daarom sal 'n sterk volk U eer, 'n stad van magtige nasies sal U vrees.
4Ja, U was 'n toevlug vir armes, 'n toevlug vir behoeftiges in hulle nood, 'n skuilplek teen stortreën, 'n skaduwee teen hitte. Want die asem van geweldenaars is soos stortreën teen 'n muur,
5soos hitte in 'n dor streek. U doof die rumoer van vreemdes uit; soos hitte in die skadu van 'n wolk, word die lied van geweldenaars gedemp.
6Die Here, Heerser oor alle magte, sal op hierdie berg vir al die volke 'n feesmaal van ryk geregte voorberei, 'n feesmaal met beleë wyn, met ryk geregte vol murg, met gesuiwerde, beleë wyn.
7Op hierdie berg sal Hy die sluier verswelg, die sluier oor al die volke, die geweefde bedekking oor al die nasies.
8Hy sal die dood vir ewig verswelg; my Heer, die Here, sal die trane van alle gesigte afvee. Die bespotting van sy volk sal Hy van die hele aarde af verwyder. Ja, die Here het gespreek.
9Hulle sal op daardie dag sê: “Kyk, dit is ons God op wie ons gewag het, en Hy het ons gered; dit is die Here op wie ons gewag het! Laat ons juig en bly wees oor sy redding. ”
10Ja, die hand van die Here rus op hierdie berg; maar Moab word daar waar hy is, vertrap, soos strooi vertrap word in 'n mishoop.
11Moab sal sy hande uitstrek in die strooi, soos 'n swemmer sy hande uitstrek om te swem. Maar die Here sal sy hoogmoed in vernedering verander, ondanks die vaardigheid van sy hande.
12Die versterkte stad, die toevlugsoord van jou stadsmure, laat Hy tuimel, haal Hy neer, gooi Hy neer op die grond, tot in die stof.