Isaiah 17AFR20

1Profesie oor Damaskus. “Kyk, Damaskus gaan ophou om 'n stad te wees, dit gaan 'n vervalle puinhoop word.

2Die dorpe by Aroër is verlate – aan veekuddes sal dit behoort. Hulle sal daar gaan lê, en niemand sal hulle opjaag nie.

3Versterkte stede sal uit Efraim verdwyn, ook die koningskap uit Damaskus. Met wat van Aram oorbly, sal dit wees soos met die luister van die Israeliete.” Dit is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte.

4“ Op daardie dag sal die luister van Jakob vervaag; sy vet aan sy liggaam sal verdwyn.

5Dit sal wees soos wanneer iemand met die oes graanhalms insamel, en soos wanneer iemand koringare in sy arm bymekaarmaak. Dit sal wees soos wanneer iemand are optel in die vallei van Refaïm:

6Daar sal by Jakob oesreste oorbly. Soos met die afslaan van olywe sal twee of drie ryp olywe aan die bopunt van 'n tak wees, vier of vyf aan die lote van 'n boom wat dra,” is die uitspraak van die Here, die God van Israel.

7Op daardie dag sal die mens opkyk na sy Maker; sy oë sal gerig wees op die Heilige van Israel.

8Hulle sal nie opkyk na die altare, na die werk van hulle hande nie; en wat hulle vingers gemaak het, daarna sal hulle nie kyk nie – die asjeras en die wierookaltare.

9Op daardie dag sal Israel se sterk stede wees soos dié wat verlaat is deur die Hetiete en Amoriete, wat hulle verlaat het vanweë die Israeliete. 'n Woesteny sal dit word,

10omdat jy die God wat jou verlos, vergeet het, die Rots wat jou toevlugsoord is, nie onthou het nie. Daarom lê julle pragtige tuine aan, plant julle die steggies van 'n vreemde god.

11Die dag wanneer julle plant, laat julle al groei; die oggend wanneer julle saai, laat julle al uitspruit. Die oes sal egter verdwyn in 'n tyd van siekte en ongeneeslike pyn.

12Wee! Die gedreun van baie volke – soos die dreuning van die oseane dreun hulle. Die gedruis van nasies – soos die gedruis van magtige water druis hulle.

13Ja, nasies – soos die gedruis van magtige water, druis hulle. Maar Hy berispe hulle, en hulle vlug ver weg. Hulle word voortgedryf op die bulte soos kaf voor die wind, soos tolbosse voor 'n stormwind.

14Teen die aand – kyk, daar is skielik verskrikking! Voor die oggend is dit nie meer daar nie! Dit is die deel van ons plunderaars, die lot van hulle wat ons beroof.

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Isaiah 17.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.