Isaiah 18
1 Wee die land met die gevleuelde bote, anderkant die riviere van Kus,
2 wat gesante stuur oor die see, in papirusbootjies oor die watervlak! Gaan, vinnige boodskappers, na 'n nasie wat lank en glansend is, 'n volk wat wyd en syd gevrees word, 'n sterk en seëvierende nasie, wie se land verdeel word deur riviere!
3 Almal wat op die aarde woon, al julle bewoners van die wêreld, wanneer 'n banier op die berge opgesteek word, moet julle kyk; en wanneer 'n •ramshoring geblaas word, moet julle luister.
4 Want so het die Here vir my gesê: “Ek sal rustig wees en uit my woonplek toekyk, soos versengende hitte in helder daglig, soos 'n newel in die hitte van die oestyd.
5 Ja, voor die oes, wanneer die bottyd verby is, en die groen druiwe wat ryp word tot volle bloei kom, word die lote met snoeimesse afgesny, en die hegranke verwyder, afgebreek.
6 Hulle word saam agtergelaat vir die roofvoëls op die berge en diere van die land. Die roofvoëls sal die somer daarop deurbring, en al die diere van die land sal daarop oorwinter.”
7 In daardie tyd sal geskenke gebring word vir die Here, Heerser oor alle magte, deur 'n volk wat lank en glansend is, 'n volk wat wyd en syd gevrees word, 'n sterk en seëvierende nasie, wie se land verdeel word deur riviere – na die plek toe waaraan die Naam van die Here, Heerser oor alle magte, verbonde is, na die berg Sion.