Isaiah 14AFR20

1Maar die Here sal Hom oor Jakob ontferm; Hy sal Israel weer kies, en hulle op hulle grond tot rus bring. Vreemdelinge sal by hulle aansluit, hulle by die huis van Jakob voeg.

2Volke sal Israel neem en hulle terugbring na hulle plek. Dan sal die huis van Israel hulle as eiendom neem, as slawe en slavinne op die grondgebied van die Here. Israel sal dié wegvoer wat hulle as gevangenes weggevoer het, en heers oor dié wat hulle verdruk het.

3En dan, die dag wanneer die Here jou rus gee van jou swaarkry en jou onrus, en van die harde arbeid wat jou opgelê is,

4sal jy hierdie spotlied sing oor die koning van Babilonië. Jy sal sê: “Hoe het die verdrukker tot 'n einde gekom, die verdrukking opgehou!

5Die Here het die stok van goddeloses gebreek, die staf van die heersers,

6wat volke in gramskap geslaan het met slae sonder ophou, wat nasies in toorn vertrap het met vervolging sonder om terug te hou.

7Die hele aarde beleef rus en kalmte, mense breek uit in jubelkrete.

8Selfs die sipresse is verheug oor jou; die seders van die Libanon sê, ‘Vandat jy daar lê, klim geen houtkapper op na ons toe nie.’

9Die •doderyk daaronder is in beroering oor jou, om jou te ontmoet by jou aankoms. Dit maak die skimme wakker oor jou; al die voorbokke van die aarde, al die konings van die nasies staan op van hulle trone.

10Hulle almal reageer en sê vir jou, ‘Ook jy is so swak gemaak soos ons, net soos ons het jy geword.

11Jou hoogmoed is afgebring na die doderyk, ook die geluid van jou harpe. Onder jou vorm maaiers 'n bed, wurms bedek jou.’ ”

12Hoe het jy geval uit die hemelruim, môrester, seun van die daeraad! Hoe is jy tot op die grond neergekap, jy wat nasies verslaan het!

13Jy is die een wat in jou hart gesê het: Na die hemel wil ek opgaan; hoog bo die sterre van God wil ek my troon oprig. Ek wil gaan sit op die berg van samekoms, in die afgeleë noorde.

14Ek wil opgaan tot bo die rûe van wolke, my gelykstel aan die Allerhoogste.

15Jy is egter na die doderyk afgebring, tot in die afgeleë put.

16Hulle kyk na jou, hulle staar na jou, hulle beskou jou aandagtig: “Is dit die man wat die aarde laat beef het, koninkryke laat sidder het?

17Hy het die bewoonde wêreld soos 'n woestyn gemaak, die stede daarvan afgebreek. Sy gevangenes het hy nie vrygelaat om huis toe te gaan nie.”

18Al die konings van die nasies, hulle almal, rus eervol, elkeen in sy eie tuiste.

19Maar jy, jy is weggesmyt, weg van jou graf, soos 'n verfoeilike takkie, oordek met gesneuweldes, met hulle wat deurboor is deur die swaard, dié wat afdaal na die klippe van die put – as 'n vertrapte lyk.

20Jy sal nie met hulle verenig word in 'n graf nie; want jou land het jy verwoes, jou mense het jy doodgemaak. Die geslag kwaaddoeners sal nooit weer vermeld word nie.

21Maak vir sy kinders 'n slagplek gereed weens die sondeskuld van hulle voorouers. Hulle mag nie opstaan en die land in besit neem, sodat die oppervlakte van die aarde weer vol stede is nie.

22“Ek sal teen hulle opstaan,” is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte. “Ek sal van Babel uitroei naam en oorblyfsel, kind en nageslag,” is die uitspraak van die Here.

23“Ek maak van Babel waterryke vleilande, die domein van uile. Ek sal haar wegvee met 'n besem wat verdelg.” Dit is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte.

24Die Here, Heerser oor alle magte, het 'n eed afgelê met dié woorde: “Soos Ek iets bedink, so sal dit gebeur; soos Ek beplan, kom dit tot stand:

25Dit is om Assirië te breek in my land; op my berge sal Ek hom vertrap. Sy juk sal van my volk wyk, sy las sal van hulle skouers wyk.”

26Dit is die besluit wat oor die hele aarde geneem is; en dit is die hand wat uitgestrek is oor al die nasies.

27Ja, die Here, Heerser oor alle magte, het besluit – wie kan dit verydel? Sy hand is uitgestrek – wie kan dit afweer?

28In die sterfjaar van koning Agas is hierdie profesie ontvang:

29“Jy, ganse Filistea, moet jou nie verheug dat die stok wat jou geslaan het, gebreek is nie! Want uit die wortel van 'n slang sal 'n kobra voortkom; en dié lewer weer 'n vlieënde vurige slang.

30In my weiding sal armes wei, en die behoeftiges sal veilig gaan lê; maar deur honger sal Ek jou wortel laat sterf, en wat van jou oorbly, sal die hongersnood ombring.

31“Huil, poort! Roep om hulp, stad! Sidder, ganse Filistea! Want uit die noorde kom 'n rookwolk, en daar is in sy geledere niemand wat uitsak nie.

32Watter antwoord moet die gesante van die nasie dan kry? ‘Die Here het Sion gegrondves, en in haar sal die magteloses van sy volk skuiling vind.’ ”

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Isaiah 14.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.