Isaiah 13
1 'n Profesie oor Babel, wat aan Jesaja, seun van Amos, geopenbaar is.
2 “Hou op 'n kaal heuwel 'n banier omhoog; roep hulle hardop toe, wink met die hand, sodat hulle die poorte van vooraanstaandes binnegaan.
3 Ek self het my gewydes opdrag gegee; Ek het selfs my helde ontbied, met die oog op my toorn – hulle wat triomfantelik is oor my verhewenheid.”
4 Luister! Die gedruis op die berge soos van baie manskappe! Luister! Die gedreun van koninkryke, van nasies wat byeen is! Die Here, Heerser oor alle magte, monster 'n leër vir oorlog.
5 Hulle is aan die kom uit 'n ver land, van die einde van die hemel af – die Here en die werktuie van sy vervloeking, om die hele aarde ten gronde te laat gaan.
6 Huil, want die dag van die Here is naby! Soos 'n verwoesting kom dit van die Almagtige.
7 Daarom sal alle hande slap word, en elke mensehart ineenkrimp.
8 Hulle raak angsbevange; krampe en geboortepyne pak hulle beet – soos 'n vrou wat geboorte gee, krimp hulle ineen. Hulle staar mekaar aan – soos vlamme is hulle gesigte.
9 Kyk, die dag van die Here is aan die kom – wreed, vol gramskap en brandende toorn – om die aarde 'n skrikbeeld te maak, en die sondaars van die aarde daarvan af uit te delg.
10 Ja, die sterre aan die hemelruim, en Orion met sy sterrebeelde laat nie meer hulle lig skyn nie. Die son word donker sodra dit opkom, en die maan straal nie sy lig uit nie.
11 “Ek sal van die wêreld rekenskap eis oor boosheid, en van goddeloses oor hulle sondeskuld. Ek sal 'n einde maak aan die hoogmoed van vermeteles; die trots van geweldenaars sal Ek verander in vernedering.
12 Ek sal sterflinge skaarser maak as fyngoud, mense skaarser as goud uit Ofir.
13 Daarom sal Ek die hemel laat sidder, en die aarde sal uit sy plek skud vanweë die gramskap van die Here, Heerser oor alle magte, op die dag van sy brandende toorn.
14 Dit sal wees soos met 'n verskrikte gasel, en kleinvee wat niemand bymekaar hou nie. Elkeen van hulle sal na sy volk draai, en elkeen van hulle na sy land vlug.
15 Elkeen wat gevind word, sal deurboor word; en elkeen wat weggesleep word, sal val deur die swaard.
16 Hulle kinders sal voor hulle oë te pletter geslaan word; hulle huise sal geplunder word, en hulle vroue sal verkrag word.
17 Kyk, Ek gaan die Meders teen hulle aanhits, hulle wat silwer nie hoog aanslaan nie, en in goud geen genot vind nie.
18 Die boogskutters sal jongmanne verpletter. Met die vrug van die moederskoot toon hulle geen meegevoel nie; oor kinders stort hulle nie 'n traan nie.
19 Met Babel, die sieraad onder koninkryke, die trotse pragstuk van die Galdeërs, sal dit wees soos met God se verwoesting van Sodom en Gomorra.
20 Dit sal nooit weer bewoon word nie, en geslag ná geslag nie 'n tuiste bied nie. Arabiere sal nie daar tent opslaan nie, en herders sal nie 'n kudde daar laat rus nie.
21 Woestyndiere sal daar gaan rus. Die huise sal vol uile wees; steenuile sal daar tuis wees, en •veldgode sal daar ronddans.
22 Hiënas sal in die vestings lag, en jakkalse in die weelderige paleise. Babel se tyd is voor die deur; haar lewensdae sal nie verleng word nie.”