1Jy sal op daardie dag sê: “Ek dank U, Here, Ja, U was toornig op my, maar u toorn het bedaar, U troos my.
2Kyk, God is my verlossing; ek vertrou en is nie ontsteld nie. Ja, die Here, die Here is my toevlug en my sterkte; Hy het my tot hulp gekom.
3Julle sal met vreugde water skep uit die fonteine van verlossing.
4Julle sal op daardie dag sê, ‘Prys die Here! Roep sy Naam uit! Maak onder die volke sy dade bekend! Verkondig dat sy Naam verhewe is!
5Besing die Here, want verhewe dinge het Hy gedoen; dit moet bekend word oor die hele aarde.’
6Roep uit en jubel, inwoners van Sion, want die Heilige van Israel is groot in julle midde.”