Bible

Power Up

Your Services with User-Friendly Software

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Hebrews 9

:
Afrikaans - AFR20
1 Die eerste verbond het bepalings vir aanbidding gehad, asook 'n heiligdom wat aards was.
2 Die voorste tent was toegerus met die kandelaar, en die tafel met die •vertoonbrode, en is die “Heilige” genoem.
3 En agter die tweede tempelgordyn was 'n tent, wat die Allerheiligste genoem is;
4 dit het die goue altaar vir die reukwerk bevat en die •verbondsark, wat aan alle kante met goud oorgetrek was. Daarbinne was die goue kruik met manna, en die staf van Aäron wat gebot het, asook die tafels van die verbond;
5 en bo-op was die gerubs van heerlikheid, wat die versoendeksel oorskadu het. Hieroor kan ons egter nie nou in besonderhede praat nie.
6 Met hierdie dinge dan so ingerig, gaan die priesters gereeld die voorste tent binne om hulle rituele diens te verrig.
7 Maar by die tweede tent gaan net die hoëpriester in, en dit slegs een keer per jaar, en nie sonder bloed wat hy vir homself offer, en vir die sondes wat die volk onwetend gedoen het nie.
8 Daarmee dui die Heilige Gees aan dat die weg na die heiligdom nog nie oopgestaan het solank die voorste tent nog bestaan het nie.
9 Dit versinnebeeld tot op hede hoe gawes en offers gebring is wat nie in staat was om die gewete van die een wat die offer bring, volkome te reinig nie.
10 Dit het net gegaan oor kos en drank, en verskillende reinigingsrituele bepalings vir die liggaam, wat opgelê is tot op die bestemde tyd van regstelling.
11 •Christus egter het gekom as Hoëpriester van die goeie dinge wat nou verwesenlik is, en Hy het deur 'n uitnemender en meer volmaakte •tabernakel beweeg wat nie deur mensehande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie van hierdie skepping is nie.
12 Hy het ook nie met die bloed van bokramme en bulkalwers nie, maar eens en vir altyd, met sy eie bloed, die heiligdom binnegegaan, en 'n ewige verlossing bewerkstellig.
13 Want as die bloed van bokramme en bulle, en die as van 'n jong vers, die verontreinigdes deur besprinkeling wy, met die oog op die reiniging van die liggaam,
14 hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees as vlekkelose offer aan God geoffer het, ons gewete reinig van dooie werke, sodat ons die lewende God kan dien?
15 Aangesien daar 'n dood was, as losprys vir die oortredings, ten tyde van die eerste testament, is Hy juis daarom Middelaar van 'n nuwe testament, sodat dié wat geroep is, die belofte van die ewige erfenis kan ontvang.
16 Waar 'n testament ter sprake is, is dit nodig om die dood van die een wat dit gemaak het, te bevestig.
17 'n Testament tree tog deur die dood in werking, aangesien dit nooit van krag is solank die een wat dit gemaak het, nog leef nie.
18 Daarom is ook die eerste verbond nie sonder bloed ingewy nie.
19 Immers, nadat elke gebod volgens die wet deur Moses aan die hele volk bekend gemaak is, het hy die bloed van die bulkalwers en die bokramme saam met water geneem, en met helderrooi wol en marjolein het hy die boekrol self, en ook die hele volk besprinkel,
20 terwyl hy sê: “Dit is die bloed van die verbond wat God vir julle bepaal het.”
21 En op dieselfde wyse het hy die tabernakel en al die godsdienstige voorwerpe met die bloed besprinkel.
22 Feitlik alles is volgens die wet met bloed gereinig; ja, sonder bloedvergieting vind geen vergifnis plaas nie.
23 Dit was dus nodig dat die afbeeldings van wat in die hemele is, deur hierdie dinge gereinig word maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie.
24 Want Christus het nie 'n mensgemaakte heiligdom, 'n nabootsing van die ware een, binnegegaan nie, maar die hemel self, om nou ter wille van ons voor God te verskyn;
25 ook nie sodat Hy Homself herhaaldelik sou offer nie anders as die hoëpriester, wat jaar jaar in die Heilige met 'n ander se bloed ingaan
26 aangesien Hy dan dikwels, van die grondlegging van die wêreld af, sou moes ly. Maar nou, by die volheid van die tye, het Hy eens en vir altyd verskyn om met sy offer die sonde ter syde te stel.
27 En net soos dit bestem is vir mense om slegs een maal te sterf, en daarna kom die oordeel,
28 so sal •Christus, nadat Hy eenmalig geoffer is om die sondes van baie te dra, 'n tweede maal verskyn aan hulle wat Hom verwag, nie weens sonde nie, maar om hulle te verlos.