Hebrews 8
1 Die hoofsaak van wat gesê is, is dat ons só 'n Hoëpriester het: Een wat gaan sit het aan die regterkant van die troon van die Majesteit in die hemele,
2 'n bedienaar in die heiligdom, ja, in die ware •tabernakel wat die Here, nie 'n mens nie, opgerig het.
3 Elke hoëpriester word tog aangestel om gawes en offers te bring. Daarom was dit noodsaaklik dat ook Hy iets moes hê om te offer.
4 As Hy dan op aarde was, sou Hy nie 'n priester gewees het nie, aangesien daar priesters is wat die gawes volgens wet bring.
5 Hulle bediening is 'n afbeelding en afskaduwing van die hemelse, net soos die goddelike opdrag wat Moses ontvang het toe hy die ware tabernakel moes oprig, en God vir hom gesê het: “Let op dat jy alles maak volgens die voorbeeld wat vir jou op die berg gewys is.”
6 Maar nou het Jesus 'n meer verhewe bediening verkry, in dié sin dat Hy ook Middelaar is van 'n uitnemender verbond, wat op grond van uitnemender beloftes regsgeldigheid verkry het.
7 Want as daardie eerste een foutloos was, sou daar nie behoefte gewees het aan 'n tweede een nie.
8 Hy vind inderdaad fout met hulle wanneer Hy sê: “Kyk daar kom dae, sê die Here, dat Ek met die huis van Israel en met die huis van Juda 'n nuwe verbond sal sluit.
9 Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorouers gesluit het op die dag toe Ek hulle met my hand gegryp het om hulle uit Egipte uit te lei nie; want hulle het nie by my verbond gebly nie, en Ek het hulle geïgnoreer, sê die Here.
10 Dit is dan die verbond wat Ek ná daardie dae met die huis van Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my wette in hulle verstand gee, en op hulle harte sal Ek dit neerskryf. Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees.
11 Niemand sal meer sy medeburger of sy broer onderrig en sê, ‘Ken die Here!’ nie, omdat hulle almal My sal ken, van die kleinste tot die grootste onder hulle.
12 Ek sal genadig wees oor hulle ongeregtighede, en aan hulle sondes sal Ek glad nie meer dink nie. ”
13 Deur te praat van 'n nuwe verbond, het Hy die eerste een verouderd verklaar. En wat verouderd verklaar en afgeleef is, is naby aan verdwyning.