Ecclesiastes 6
1 Daar is 'n euwel wat ek gesien het onder die son, en wat swaar druk op die mensdom:
2 'n man aan wie God rykdom, besittings en eer gee sodat hy niks kortkom van alles wat hy begeer nie, maar God gee hom nie die geleentheid om daarvan te geniet nie, omdat 'n vreemde persoon dit geniet. Dit is sinloos en 'n bitter lyding.
3 As iemand honderd kinders verwek en baie jare leef – hoe baie sy lewensjare ook al is – maar sy begeerte na die goeie nie versadig word nie, en daar ook nie 'n begrafnis vir hom is nie, dan sê ek: 'n Misgeboorte is beter as hy!
4 Want sonder enige sin kom dit en in duisternis gaan dit; en met duisternis word die naam daarvan bedek;
5 boonop het dit die son nie gesien of geken nie. Dit het meer rus as daardie man,
6 selfs al leef hy ook twee maal duisend jaar, maar geniet nie wat goed is nie. Gaan alles nie maar na een plek toe nie?
7 Al die inspanning van 'n mens is maar net vir sy mond, maar tog kry sy keel nie genoeg nie.
8 Ja, watter voordeel is daar vir die wyse bo die dwaas? Watter voordeel is daar vir die magtelose wanneer hy weet hoe om hom te gedra teenoor die wêreld?
9 Om met die oë te geniet, is beter as onvervulde begeertes. Ook dit is sinloos en 'n gejaag na wind.
10 Wat bestaan, is lankal reeds benoem. Dit is bekend dat hy “mens” is, en hy kan nie 'n regstryd begin met Een wat magtiger as hy is nie.
11 Wanneer daar meer woorde is, word die sinloosheid meer. Watter voordeel is daar vir die mens?
12 Ja, wie weet wat goed is vir die mens in die lewe gedurende sy min, sinlose lewensdae wat hy deurbring asof dit 'n skaduwee is? Wie is dit wat die mens kan inlig oor wat ná hom sal gebeur onder die son?