Ecclesiastes 7AFR20

1'n Goeie naam is beter as goeie reukolie, en die sterfdag as die geboortedag.

2Dit is beter om te gaan na 'n huis waar gerou word, as om te gaan na 'n huis waar fees gevier word; want in 'n huis waar gerou word, eindig alle mense, en die lewende moet dit ter harte neem.

3Verdriet is beter as lag, want met 'n droewige gesig gaan dit goed met die hart.

4Die hart van wyses is in 'n huis waar gerou word, maar die hart van dwase is in 'n huis waar plesier is.

5Dit is beter om te luister na die vermaning van 'n wyse, as wanneer iemand luister na die lied van dwase.

6Want soos die geknetter van doringtakke onder 'n pot, so is die gelag van 'n dwaas. Ook dit is sinloos:

7dat afpersing 'n wyse dwaas maak, en 'n geskenk 'n hart vernietig.

8Die einde van 'n saak is beter as die begin daarvan; iemand wat lankmoedig is, is beter as iemand wat hoogmoedig is.

9Moenie in jou gees haastig wees om jou te vererg nie, want verdriet is tuis op die skoot van dwase.

10Moenie sê, “Waarom was die vroeëre dae beter as hierdie?” nie; want dit is nie uit wysheid dat jy daaroor vrae stel nie.

11Wysheid is goed saam met 'n erfporsie en is 'n voordeel vir dié wat die son sien;

12want die wysheid bied beskutting. Geld bied beskutting, maar die voordeel daarvan om die wysheid te ken, is: Die wysheid hou dié wat haar besit, lewend.

13Kyk na die werk van God: Wie kan reguit maak wat Hy krom gemaak het?

14As dit die dag goed gaan, geniet die voorspoed, maar as dit die dag sleg gaan, besef: Ook hierdie dag het God gemaak net soos daardie een; gevolglik kan die mens nie enigiets ontdek wat in die toekoms wag nie.

15Dit alles het ek gesien in my sinlose lewensdae: Daar is 'n regverdige wat deur sy regverdigheid omkom; en daar is 'n goddelose wat deur sy goddeloosheid lank lewe.

16Moenie oordrewe regverdig wees of jouself besonder slim hou nie. Waarom moet jy jouself vernietig?

17Moenie oordrewe goddeloos wees nie, en moenie 'n dwaas wees nie. Waarom moet jy sterf voor jou tyd?

18Dit is goed dat jy aan die een vashou en ook nie jou hand aan die ander onttrek nie; want wie vir God eerbied het, ontkom aan dit alles.

19Die wysheid gee aan die wyse meer mag as tien heersers wat in die stad is;

20want daar is geen mens op aarde wat regverdig is, wat aanhou goed doen en nie sondig nie.

21Verder, moenie aandag gee aan alles wat mense sê nie, sodat jy nie hoor dat jou slaaf jou vervloek nie.

22Want jou hart weet ook van die vele kere toe ook jy ander vervloek het.

23Dit alles het ek met wysheid op die proef gestel. Ek het gesê, ek wil wys wees, maar dit het buite my bereik gebly.

24Wat gebeur, is ver en diep, baie diep – wie kan dit peil?

25Ek het my hart daaraan oorgegee om te ken en na te vors, om na wysheid en verklaring te soek, om die kwaad van onkunde, en die dwaasheid as domheid, te leer ken.

26En dan vind ek gewoonlik: Bitterder as die dood is die vrou wat vangnette is; wie se hart sleepnette, wie se hande boeie is. Hy wat goed is voor God, sal aan haar ontkom; maar hy wat verkeerd doen, word deur haar gevang.

27Kyk, dit is die wysheid wat ek gevind het, sê die prediker, by die een na die ander op soek na verklaring.

28Wat ek self bly soek het, maar nie gevind het nie, is: Een mens uit duisend het ek gevind, maar 'n vrou het ek tussen hulle almal nie gevind nie.

29Kyk, al wat ek kon vasstel, is dat God die mensdom reg geskape het, maar hulle is op soek na allerlei slim verklarings.

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Ecclesiastes 7.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.