1Moenie gou wees met jou mond en laat jou hart nie haastig wees om 'n woord voor God te uiter nie. Want God is in die hemel en jy is op die aarde; daarom moet jou woorde min wees.
2Ja, 'n droom kom deur baie sorge en 'n dwase gepraat deur baie woorde.
3Wanneer jy 'n gelofte teenoor God aflê, moet jy nie uitstel om dit na te kom nie, want Hy hou nie van dwase nie. Wat jy ook al beloof – betaal dit!
4Dit is beter dat jy nie beloof nie as dat jy beloof en nie betaal nie.
5Moenie jou mond toelaat om jou liggaam te laat sondig nie. Moenie voor die boodskapper van God sê dat dit 'n onopsetlike fout was nie. Waarom moet God vertoornd word oor jou woorde en jou handewerk vernietig?
6Want waar baie drome en onsinnighede is, is daar meer woorde. Ja, vrees God!
7As jy die afpersing van armes en die verdraaiing van reg en geregtigheid sien in 'n provinsie, moet jy jou nie oor die saak verbaas nie, want hooggeplaastes hou 'n oog oor hooggeplaastes, en hoëres weer oor hulle.
8Maar die voordeel vir 'n land, te midde van dit alles, is 'n koning wat sorg dat lande bewerk word.
9Wie geld liefhet, kry nie genoeg van geld nie, en wie aan rykdom geheg is, van inkomste nie. Ook dit is sinloos.
10Wanneer iemand se voorspoed toeneem, word dié wat dit verbruik meer. Wat is die wins vir die besitter daarvan behalwe dat sy oë dit aanskou?
11Die arbeider se slaap is soet, of hy min of baie eet; maar die oormaat van die ryke gun hom geen rus nie, sodat hy nie kan slaap nie.
12Daar is 'n siek euwel wat ek gesien het onder die son: rykdom wat deur die besitter bewaar is tot sy eie nadeel.
13Hierdie rykdom het verlore gegaan deur swak besigheid. Hy het 'n seun verwek, maar dié sit sonder iets in sy hand.
14Soos wat hy naak uit die skoot van sy moeder gekom het, sal hy weer heengaan soos hy gekom het. Hy sal niks saamneem vir sy inspanning nie, niks wat hy met sy hand kan dra nie.
15Ja, dit is ook 'n siek euwel: Net soos hy gekom het, so gaan hy heen. Watter voordeel is daar vir hom dat hy hom vir wind afsloof?
16Selfs al eet hy sy lewe lank in die donker; hy vermeerder net verdriet, sy siekte en die grimmigheid.
17Kyk, wat ek gesien het, wat goed en mooi is, is om te eet en te drink en te geniet wat goed is by al die inspanning waarmee iemand hom afsloof onder die son gedurende die min lewensdae wat God vir hom gee, want dit is sy beloning;
18boonop, dit geld vir elke mens aan wie God rykdom en besittings gee en vir wie Hy die geleentheid gee om daarvan te geniet, om dit as sy beloning te ontvang en vrolik te wees by sy inspanning. Dit is 'n gawe van God.
19Want hy dink nie baie aan sy lewensdae nie: God laat hom besig bly met wat sy hart verbly.