Ecclesiastes 4
1 Ek het weer gekyk na al die onderdrukking wat gepleeg word onder die son. Kyk, daar is trane van onderdruktes, maar vir hulle is daar geen trooster nie. Die mag is in hulle onderdrukkers se hande – en vir hulle is daar geen trooster nie.
2 Ek het die dooies wat lankal gesterf het, as gelukkig geprys bo dié wat nog leef;
3 en beter daaraan toe as hulle almal is dié wat nog nie daar was nie, wat nog nie die slegte dade gesien het wat onder die son gepleeg word nie.
4 Ek het gesien dat al die inspanning en al die kundigheid waarmee gewerk word, naywer is van die een teenoor die ander. Ook dit is sinloos en 'n gejaag na wind.
5 Die dwaas vou sy hande en vernietig homself.
6 'n Handpalm vol rus is beter as 'n dubbele hand vol inspanning, en 'n gejaag na wind.
7 En weer het ek iets sinloos gesien onder die son:
8 Daar is iemand alleen, sonder 'n tweede; hy het nie eers 'n seun of broer nie, maar daar is geen einde aan al sy inspanning nie; sy oë raak nie versadig van rykdom nie. Vir wie vermoei ek my en ontsê ek myself die goeie? Ook dit is sinloos en 'n slegte saak.
9 Twee is beter as een, omdat daar vir hulle 'n ruim beloning is vir hulle inspanning.
10 Ja, as hulle val, kan die een sy maat ophelp; maar wee die een wat val sonder dat daar 'n tweede is om hom op te help!
11 Ook as twee by mekaar lê, kry hulle warm; maar as daar net een is, hoe kan hy warm word?
12 As iemand die een wil oorweldig – twee kan teen hom standhou. 'n Driedubbele koord word nie maklik gebreek nie.
13 'n Arm, maar wyse jong man is beter as 'n ou, maar dwase koning wat nie meer weet om op 'n waarskuwing ag te slaan nie,
14 al het die jong man uit die tronk gekom om koning te word, selfs al is hy arm gebore in die koning se ryk.
15 Ek het gesien dat almal wat leef, wat onder die son beweeg, die tweede jong man wat in sy plek gekom het, volg.
16 Daar was nie 'n einde aan al die mense wat elke vorige koning ondersteun het nie; tog sal die mense in die toekoms nie oor die jong man verheug wees nie. Ja, ook dit is sinloos en die najaag van wind.
17 Trap versigtig wanneer jy na die huis van God gaan. Gaan nader om te luister eerder as om 'n offer te bring soos dwase, want hulle weet nie dat hulle verkeerd optree nie.