Deuteronomy 33
1 Hier volg die seën waarmee Moses, die man van God, die Israeliete voor sy dood geseën het.
2 Hy het gesê: “Van Sinai af het die Here gekom, van Seïr af het Hy vir Israel lig laat skyn, laat straal van die berg Paran af. By Hom was tienduisende heiliges; in sy regterhand was 'n wet van vuur vir hulle;
3 ja, Hy het mense lief. Al die heiliges is in u hand, hulle volg U op die voet; elkeen het u uitsprake ontvang –
4 die wet wat Moses ons beveel het, die eiendom van die geloofsgemeenskap van Jakob.
5 Die Here het in Jesurun koning geword toe die leiers van die volk byeengekom het, toe die stamme van Israel bymekaar was.
6 “Mag Ruben leef; mag hy nie sterf nie, en sy manne nie min wees nie.”
7 Dit het hy oor Juda gesê: “Luister, Here, na die stem van Juda; na sy volk moet U hom bring, met sy hande het hy vir homself gestry; wees vir hom 'n hulp teen sy teenstanders.”
8 Oor Levi het hy gesê: “U Tummim en Urim is bedoel vir u gunsgenoot vir wie U getoets het by Massa, met wie U stryd gevoer het by die water van Meriba;
9 hy wat oor sy vader en moeder gesê het, ‘Ek sien hulle nie raak nie’, wat sy broers nie erken het nie, en sy seuns nie in ag geneem het nie. Want hulle het u opdrag nagekom, en hou by u verbond.
10 Hulle sal vir Jakob beslissings leer, ja, u wet vir Israel. Hulle sal vir U reukwerk neersit om te ruik, ook 'n volledige offer op u altaar.
11 Seën, Here, sy vermoë, en aanvaar die werk van sy hande. Verpletter die heupe van wie teen hom opstaan, van sy haters, sodat hulle nie staande kan bly nie.”
12 Oor Benjamin het hy gesê: “Die geliefde van die Here – mag dié veilig by Hom woon. Die Here beskut hom altyd waar hy tussen sy berghange woon.”
13 Oor Josef het hy gesê: “Sy land word deur die Here geseën met die kosbaarste gawes van die hemelruim, met dou en die •oerwater wat onder lê;
14 met die kosbare gawes wat die son oplewer en die kosbare gawes wat die seisoene bied;
15 met die beste van die oeroue berge en die kosbare gawes van die ewige heuwels;
16 met die kosbare gawes van die grond en alles daarop. Die guns van Hom wat in die doringstruik was – mag dit rus op die kop van Josef, op die hoof van die prins onder sy broers.
17 Sy eersgebore bul is statig; en sy horings is buffelhorings; daarmee sal hy volke saam wegstoot tot by die uithoeke van die aarde. Hulle is die tienduisende van Efraim, hulle is die duisende van Manasse.”
18 Oor Sebulon het hy gesê: “Sebulon, wees bly wanneer jy uittrek om te veg, ook jy, Issaskar, in jou tente.
19 Hulle sal volke na die berg nooi; daar sal hulle gepaste offers bring, want hulle gaan die oorvloed van die see en die verborge skatte in die sand geniet.”
20 Oor Gad het hy gesê: “Hy wat vir Gad ruimte maak, moet geprys word. Gad leef soos 'n leeuwyfie: Hy verskeur arm en skedel.
21 Hy het vir homself die beste deel uitgesoek; ja, op daardie plek is die stuk grond van 'n bevelvoerder vir hom uitgehou toe hy na die leiers van die volk gekom het. Hy het die geregtigheid van die Here volbring, sy beslissings in verband met Israel.”
22 Oor Dan het hy gesê: “Dan is 'n leeuwelpie; hy spring op uit Basan.”
23 Oor Naftali het hy gesê: “Naftali is versadig van die Here se guns, en vol van sy seëninge. Neem dan die weste en die suide in besit.”
24 Oor Aser het hy gesê: “Geseënd is Aser, meer as die ander seuns; mag hy die gunsteling van sy broers wees, sy voete in olie doop.
25 Mag jou sluitbalke van yster en brons wees, en jou lewenskrag soos jou lewensjare.
26 “Jesurun, daar is niemand soos God nie, wat as jou hulp deur die hemel ry, deur die wolkehemel in sy verhewenheid.
27 Die God van die voortyd is 'n skuilplek, en onder jou is ewige arms. Hy het vyande voor jou verdryf en gesê, ‘Delg uit!’
28 “Israel het veilig gaan woon; die fontein van Jakob was afgesonder in 'n land met koring en •nuwe wyn, en sy hemel drup dou.
29 Gelukkig is jy, Israel! Wie is soos jy, 'n volk wat verlos is deur die Here, die skild wat jou help, en wat jou verhewe swaard is? Jou vyande kom kruipend na jou, en jy trap op hulle rûe. ”