Deuteronomy 32
1 “ Luister hemele, ek wil praat, en aarde, jy moet die woorde van my mond hoor.
2 Mag my onderrig neerstuif soos reën, my woorde drup soos dou, soos deurdringende reën op groen gras, soos reënbuie op plante.
3 Ja, die Naam van die Here roep ek uit, Erken die grootheid van ons God,
4 die Rots! Volmaak is sy werk, ja, al sy paaie is 'n maatstaf. 'n Betroubare God, sonder onreg, regverdig en onkreukbaar is Hy.
5 “ Sy volk het hulle teenoor Hom wangedra; hulle is nie sy kinders nie, maar 'n skandvlek, 'n vals en verworde geslag.
6 Is dit hoe julle teenoor die Here optree, dwase en onverstandige volk? Is Hy nie jou Vader wat jou geskep het nie? Hy is die Een wat jou gemaak het, wat jou gevestig het.
7 Onthou die tye lank gelede, dink aan die jare van vorige geslagte; vra jou vader, hy sal jou inlig; jou ou mense, hulle sal dit vir jou sê:
8 Toe die Allerhoogste vir die nasies hulle erfenis gegee het, toe Hy mensekinders van mekaar geskei het, het Hy die grense van volke vasgelê volgens die getal van die kinders van Israel;
9 want die Here se deel is sy volk, Jakob is sy afgemete erfenis.
10 Hy het sy volk in 'n woestynland gevind, in 'n onherbergsame streek met die wildernis se gehuil. Hy het hom omring, hom versorg, hom beskerm soos die appel van sy oog.
11 Soos 'n arend sy neskuiken aanspoor, bo sy jong kuiken fladder, sy vlerke oopsprei en hom vang, hom op sy penvere dra,
12 het net die Here hom gelei; daar was geen vreemde god by hom nie.
13 Die Here het hom laat ry oor die hoogtes van die aarde. Hy het die opbrengs van die veld geëet. Die Here het hom gevoed met heuning uit 'n rotsskeur, met olie uit 'n klipharde rots,
14 met die dikmelk van beeste, die melk van kleinvee, ook met die vet van slaglammers, ramme uit Basan, ook bokramme, en met die fynste koringmeel. En druiwebloed het jy gedrink – gistende wyn.
15 “ Jesurun het vet geword en agterop geskop. Jy het vet geword, rond geword, eiesinnig geraak. Hy het die God wat hom gemaak het, versaak, die Rots wat hom verlos, met minagting behandel.
16 “Hulle het die Here met vreemde gode ontstel, met afstootlike dinge het hulle Hom getart.
17 Hulle het vir demone, vir nie-gode, vir gode wat hulle nie geken het nie, offers geslag – nuwes wat maar onlangs na vore gekom het, gode wat vir julle voorouers nie bestaan het nie.
18 Die Rots wat jou verwek het, het jy verontagsaam; jy het die God wat jou voortgebring het, vergeet.
19 “ Die Here het dit gesien, en uit ergernis sy seuns en dogters verstoot.
20 Hy het gesê, ‘Ek wil my gesig vir hulle verberg; Ek wil sien wat van hulle gaan word, want hulle is 'n verworde geslag, kinders wat nie vertrou kan word nie.
21 Hulle het My ontstel met nie-gode, My uitgetart met hulle nietige afgode. Ek gaan hulle ontstel met 'n nie-volk, met 'n dwase nasie gaan Ek hulle tart.
22 Want 'n vuur is aangesteek in my toorn, en dit brand tot in die •doderyk daar onder. Dit verteer die aarde en sy opbrengs, dit laat die fondamente van die berge in vlamme opgaan.
23 Ek bring meer rampe oor hulle, my pyle skiet Ek alles op hulle af:
24 Uitgemergel deur honger, uitgeteer deur plae en die verskriklikste pessiekte, lewer Ek hulle uit aan verskeurende diere en giftige slange.
25 Buite maai die swaard af, en in die binnekamers die vrees – jong man sowel as jong meisie, die suigeling saam met die grysaard.
26 “ ‘Ek het gedink, ek moet hulle uitwis, die herinnering aan hulle onder die mense laat verdwyn,
27 was dit nie vir die ergernis van vyande wat My afgeskrik het nie. Anders maak hulle teenstanders 'n verkeerde afleiding en sê: “Ons mag het geseëvier; die Here het niks hiervan gedoen nie.” ’
28 “Ja, die vyand is 'n nasie wie se planne gedaan is, by wie daar geen insig is nie.
29 As hulle wys was, sou hulle dit begryp, hulle sou nadink oor hulle einde.
30 Hoe kan een dan duisend agtervolg, en twee tienduisend op die vlug jaag as hulle rots hulle nie verkoop het nie, as die Here hulle nie oorgelewer het nie?
31 Ja, hulle rots is nie soos ons Rots nie – ons vyande gee dit toe –
32 want uit Sodom se wingerd kom hulle wingerdstokkies, van die terrasse van Gomorra is hulle druiwekorrels. Dit is giftige druiwe, hulle dra bitter trosse.
33 Hulle wyn is slanggif, die dodelike gif van kobras.
34 Die Here sê, ‘Is dit nie by My weggebêre nie, in my stoorkamers verseël
35 vir die dag van wraak en vergelding, vir die tyd wanneer hulle voete gaan wankel nie? Want naby is die dag van hulle teenspoed; wat vir hulle gereed lê, kom gou.’
36 “ Maar die Here laat reg geskied aan sy volk, oor sy diensknegte ontferm Hy Hom, wanneer Hy sien dat hulle mag verdwyn het, en dat die einde aangebreek het vir wie gevange is en vir wie vrygelaat is.
37 “Hy sal sê, ‘Waar is hulle gode, die rots waar hulle geskuil het,
38 wat die vet van hulle slagoffers geëet, en die wyn van hulle •drankoffers gedrink het? Laat hulle opstaan en julle help, laat hulle oor julle 'n beskutting wees.
39 Sien tog nou in dat Ek, ja, Ek die Een is; daar is geen god naas My nie. Ek maak dood en Ek maak lewend; Ek verpletter, ja, Ek maak gesond, en niemand red uit my hand nie.
40 Ja, Ek hef my hand op na die hemel en sê: “So waar as wat Ek ewig leef,
41 Ek gaan my flitsende swaard skerp maak, en my hand sal dit vir die vonnis vasgryp. Ek gaan wraak neem op my teenstanders, my haters gaan Ek vergeld.
42 Ek gaan my pyle dronk maak van bloed – my swaard sal vleis verslind – van die bloed van gesneuweldes en gevangenes, van die vyand se leiers met die los hare. ” ’
43 “Nasies, juig sy volk toe, want Hy gaan die bloed van sy diensknegte wreek; Hy gaan wraak neem op sy teenstanders en versoening doen vir sy grond, sy volk.”
44 So het Moses dan gekom en al die woorde van hierdie lied ten aanhore van die volk voorgedra, hy en Josua, die seun van Nun.
45 Toe Moses klaar was met die voordra van al hierdie woorde vir die hele Israel,
46 het hy vir hulle gesê: “Neem al die woorde waarmee ek julle vandag waarsku, ter harte – dat julle dit aan julle kinders moet opdra om al die woorde van hierdie wet nougeset na te kom.
47 Want dit is nie 'n niksseggende saak vir julle nie, dit is immers julle lewe. Deur hierdie saak verleng julle die lewe op daardie grond waarheen julle oor die Jordaan trek om dit in besit te neem.”
48 Die Here het op daardie selfde dag met Moses gepraat en gesê:
49 “Klim teen hierdie Abarimberge op, teen die berg Nebo, wat in die land Moab teenoor Jerigo lê. Kyk dan na die land Kanaän, wat Ek vir die Israeliete as besitting gaan gee.
50 Sterf op die berg waarteen jy opklim en word so met jou mense verenig, net soos Aäron, jou broer, op die berg Hor gesterf en met sy mense verenig is,
51 omdat julle aan My ontrou was tussen die Israeliete by die water van Meriba-Kades in die Tsinwoestyn; want julle het daar tussen die Israeliete nie my heiligheid in ag geneem nie.
52 Ja, jy sal die land van die oorkant af sien; maar daarheen, na die land wat Ek aan die Israeliete gaan gee, sal jy nie gaan nie.”