1Vir die leier van die koor. 'n Psalm van Dawid
2toe hy seks gehad het met Batseba en die profeet Natan na hom toe gekom het.
3O God, U moet genadig wees vir my, want U doen altyd wat U belowe het. U is altyd jammer vir u mense, daarom moet U nie meer daaraan dink dat ek opstandig was teen U nie.
4U moet alles wegneem wat ek verkeerd gedoen het. U moet my reinig en my sonde wegwas soos 'n mens iemand skoon was.
5Ja, ek weet self dat ek opstandig was, ek vergeet nooit my sonde nie.
6Ek het sonde gedoen teen U, net teen U, ek het dinge gedoen waarvan U nie hou nie. Daarom was U reg toe U gesê het dat ek skuldig is, U het nie 'n fout gemaak toe U my ge-oordeel het nie.
7Ek weet, ek het verkeerd gedoen vandat ek gebore is, ek was 'n sondaar voordat ek gebore is.
8Ek weet, U hou van die waarheid, ook in die donker, U leer vir my wysheid waar niemand dit kan sien nie.
9U moet my reinig van my sonde, soos die priesters dinge reinig met 'n hisop-takkie. U moet my rein maak soos wanneer iemand iets skoon was, so skoon dat dit witter as sneeu is.
10U het my baie swaar laat kry, maar U moet my weer vrolik en bly maak, U moet my weer laat juig.
11U moenie na my sonde kyk nie, U moenie dink aan al die verkeerde dinge wat ek gedoen het nie.
12O God, gee vir my 'n nuwe hart wat rein is, maak my gees in my nuut, sodat ek altyd aan U kan behoort.
13U moenie vir my weggooi nie, U moet altyd by my bly.
14U moet my red sodat ek weer bly kan wees, U moet my help om gehoorsaam te wil wees aan U.
15Ek sal vir mense wat opstandig is, leer hoe om vir U te dien, sondaars sal terugkom na U toe.
16O God, U moet my red sodat mense my nie doodmaak nie. U is die God wat my sal red, ek sal juig wanneer U my red.
17My Here, gee vir my die woorde om U te prys,
18want offers is nie vir U belangrik nie, U hou nie daarvan dat ek net brand-offers gee nie.
19Die offers wat God wil hê, is dat 'n mens jammer moet wees oor sy sonde. O God, U wil hê dat 'n mens sleg moet voel oor sy sonde en jammer wees daaroor.
20U moet besluit om weer goed te doen aan Sion, U moet die mure van Jerusalem weer bou.
21Dan sal U die offers weer geniet wat die mense moet bring, die brand-offers, die diere wat hulle heeltemal offer. Dan sal hulle weer bulle offer op u altaar.