Psalms 50ABA

1'n Psalm van Asaf. Dit is God, God die Here, wat praat. Hy roep al die mense op die aarde, Hy roep hulle van waar die son opkom tot waar die son ondergaan.

2God laat sy lig skyn uit Sion, die mooiste van al die plekke.

3Ons God kom, Hy bly nie stil nie, 'n vuur brand voor Hom, en daar is 'n groot storm rondom Hom.

4Hy roep na die hemel daarbo en na die aarde, Hy wil sy volk oordeel.

5Hy sê: “Bring bymekaar die mense wat in My glo, die mense wat 'n offer gebring het en wat met My 'n verbond gemaak het.”

6Almal in die hemel sê dat God reg sal doen aan mense, want Hy is self die Regter. Sela

7God sê: “My volk Israel, julle moet luister, Ek wil praat. Ek wil getuie wees teen julle. Ek is God, Ek is julle God.

8Ek wil sê julle doen verkeerd. Hoekom wil Ek dit sê? Sê Ek dit omdat julle offers bring, of omdat julle aanhou om vir My brand-offers te bring? Nee.

9Ek vra nie bulle uit julle stalle of bokke uit julle krale nie,

10want al die wilde diere in die bos en die diere op duisende berge is Myne.

11Ek ken al die voëls op die berge, en al die baie diertjies in die veld behoort aan My.

12Wanneer Ek honger word, dan sal Ek nie vir julle kos vra nie, want die wêreld en alles daarop is Myne.

13Ek eet nie die vleis en Ek drink nie die bloed van die bulle en bokke wat julle offer nie.

14Nee, die offer wat jy vir God moet bring, is dit: Jy moet vir Hom dankie sê vir alles. En jy moet doen wat jy belowe het aan My, die Hoogste God.

15Jy moet tot My bid wanneer dit sleg gaan. Ek sal jou red, en jy sal My eer.”

16Maar God sê vir die mens wat verkeerd doen: “Dink jy dat jy reg doen? Jy sê wat Ek wil hê en jy praat oor die verbond wat Ek met julle gemaak het,

17maar jy haat wat Ek vir jou wil leer en jy doen nie wat Ek sê nie.

18Jy is vriende met elke dief wat jy sien en jy pleeg ook egbreuk wanneer ander mense dit doen.

19Jy wil altyd iets sê wat dit sleg sal laat gaan met iemand anders, jy vertel leuens oor mense.

20Jy sit en praat teen jou eie broer en jy beskuldig hom.

21“Jy het al hierdie dinge gedoen, en toe Ek stilgebly het, het jy gedink Ek is soos jy. Maar nou sê Ek vir jou dat jy verkeerd doen, Ek kyk in jou oë en Ek sê dit reguit vir jou.

22“Julle wat maak of daar nie 'n God is nie, julle moet asseblief luister na wat Ek sê. As julle dit nie doen nie, dan sal Ek word soos 'n leeu wat vir julle doodbyt, en niemand sal julle red nie.

23Die belangrikste offer wat Ek wil hê van die mens wat My eer, is dat hy vir My dankie moet sê vir alles. Jy moet dankie sê vir alles. Wanneer 'n mens reg lewe, dan sal Ek hom laat sien hoe dit is wanneer God hom red.”

© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Choose Translation

Switch translation for Psalms 50.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.