Psalms 48
1 'n Lied. 'n Psalm van die Korag-groep.
2 Die Here is groot, almal moet Hom prys in die stad van ons God, op sy gewyde berg.
3 Sionsberg is mooi en hoog. Almal op die aarde is bly oor die berg. Dit is die berg waar God woon, dit is die stad van die Groot Koning.
4 God het vir almal gewys dat Hy die mense beskerm binne die sterk mure van die stad.
5 Want kyk, konings het bymekaargekom en hulle het saam die stad kom aanval,
6 maar toe hulle self die stad sien, het hulle geskrik. Hulle het bang geword, hulle het gevlug.
7 Hulle het baie bang geword daar by die stad, hulle was so bang soos 'n vrou wat 'n kind moet kry,
8 so bang soos wanneer U skepe op die oop see stukkend breek met die oostewind.
9 Ons het daarvan gehoor, en nou het ons dit gesien in die stad van die Here wat oor alles regeer, in die stad van ons God. God laat die stad vir altyd vas staan. Sela
10 O God, ons het hier binne-in u tempel daaraan kom dink dat U doen wat U belowe het.
11 Almal op die aarde moet U prys, o God, want almal weet van U. Alles wat U doen, is reg.
12 Die mense in Sion moet bly wees, die mense in die stede van Juda moet juig omdat U reg oordeel.
13 Julle moet om Sion loop, rondom die stad, julle moet die torings in die muur tel.
14 Julle moet goed kyk na die muur om die stad, julle moet kyk na die sterk mure binne-in die stad, sodat julle vir julle kinders kan sê:
15 Die God wat hierdie stad beskerm, is ons God, nou en vir altyd. Hy sal ons altyd lei.