Bible

Simplify

Your Church Tech & Streamline Your Worship

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Proverbs 6

:
Afrikaans - ABA
1 My kind, wanneer jy vir 'n vriend borg gestaan het, wanneer jy dit belowe het vir 'n vreemde mens,
2 dan het jou eie woorde jou gevang, en jy het groot probleme omdat jy dit gesê het.
3 My kind, dít is wat jy dan moet doen: Jy moet jouself red, want daardie persoon kan nou besluit wat met jou sal gebeur. Jy moet by hom gaan soebat, jy moet hom aanhou vra en lastig wees,
4 jy moenie slaap of rus nie,
5 jy moet jouself red soos 'n wildsbok homself red van 'n jagter, soos 'n voël homself red van 'n voëlvanger.
6 Lui mens, jy moet na die miere gaan, jy moet gaan kyk hoe hulle lewe en jy moet leer van hulle.
7 Die miere het nie 'n leier of 'n voorman of 'n koning nie,
8 maar hulle maak in die somer kos gereed vir hulleself, hulle maak kos bymekaar wanneer daar kos is om bymekaar te maak.
9 Lui mens, hoe lank wil jy slaap, wanneer staan jy op?
10 Jy wil elke maal nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie jou toemaak, nog 'n bietjie hande vou en bly lê,
11 maar jy sal arm word soos iemand wat net rondloop en nie werk nie, jy sal honger word soos 'n bedelaar.
12 'n Slegte mens, 'n skurk, bedrieg oral mense,
13 hy knip skelm sy oë, hy maak gebare met sy vingers en voete,
14 hy dink altyd hoe hy mense kan bedrieg, hy laat mense twis met mekaar.
15 Daarom, dit sal skielik sleg gaan met hom, hy sal vinnig seerkry, en niemand sal hom help nie.
16 Daar is ses dinge waarvan die Here nie hou nie, daar is sewe dinge wat Hy haat.
17 Dit is wanneer mense hoogmoedig is, wanneer hulle lieg, wanneer hulle mense vermoor,
18 wanneer hulle slegte planne maak teen ander mense, wanneer hulle haastig is om verkeerd te doen,
19 wanneer hulle getuies is wat lieg, en wanneer hulle die een broer met die ander broer laat twis.
20 My kind, jy moet onthou wat jou pa vir jou sê, jy moenie vergeet wat jou ma vir jou leer nie.
21 Jy moenie dit vergeet nie, jy moet dit elke dag onthou.
22 Dan sal jy weet hoe jy moet lewe, jy sal elke dag en elke nag weet wat jy moet doen.
23 Want die dinge wat jou pa vir jou sê, is soos 'n lamp, die dinge wat jou ma vir jou leer, is soos 'n lig. Iemand wat vir jou wat jy moet doen en wat vir jou leer, lei jou op die pad van die lewe.
24 Hy beskerm jou teen die slegte vrou, teen die skelm woorde van die vrou wat nie jou vrou is nie.
25 Jy moenie daardie vrou wil omdat sy mooi is nie, jy moenie dat sy jou vang met haar nie.
26 Ja, jy kan 'n prostituut kry en jy kan haar betaal met 'n rondebroodjie, maar die vrou van 'n ander man is soos 'n jagter, jy kan die beste wat jy het, verloor, jy kan jou lewe verloor.
27 As iemand kole vuur voor by sy klere ingooi, dan sal sy klere aan die brand raak,
28 of wanneer hy op warm kole loop, dan sal sy voete brand.
29 So sal dit gaan met iemand wat by 'n ander man se vrou slaap, die man wat aan haar raak, sal nie vry wegkom nie, haar man sal hom straf.
30 Wanneer 'n dief steel, dan sal mense altyd dink hy doen verkeerd, ook wanneer hy steel omdat hy honger is.
31 Wanneer mense uitvind dat hy gesteel het, dan sal hy sewe maal meer moet teruggee, hy sal alles moet gee wat daar in sy huis is.
32 'n Man wat egbreuk pleeg, is baie dom, hy is mal. Hy verwoes sy eie lewe wanneer hy dit doen.
33 Hulle sal hom slaan en hulle sal hom verneder, die mense sal aanhou om hom te spot.
34 Want wanneer daardie vrou se man kwaad is, dan is dit soos 'n vuur wat brand. Wanneer hy jou straf oor wat jy gedoen het, dan sal hy nie jammer wees vir jou nie.
35 Hy sal nie geld van jou neem en jou los nie, hy sal nie jou geld neem nie, ook nie wanneer jy vir hom baie wil gee nie.