Bible

Say Goodbye

To Clunky Software & Sunday Tech Stress!

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Nahum 3

:
Afrikaans - ABA
1 Die Here sê: “Dit sal sleg gaan met Nineve. Die mense van die stad het baie mense vermoor. Hulle is skelm, die stad is vol goed wat hulle van ander mense gevat het.
2 “Die vyande slaan die perde met swepe. Die oorlogkarre se wiele raas. Die perde hardloop vinnig, die oorlogkarre skud.
3 “Die vyande kom vinnig nader op hulle perde. Hulle swaarde en hulle spiese blink in die son. Hulle maak baie mense dood. Die lyke oral, die mense val oor die lyke.
4 “Nineve, dit sal alles gebeur omdat jy soos 'n prostituut is, 'n mooi vrou wat getoor het. Jy het ander mense gevat, en hulle het jou slawe geword. Jy het alles gevat wat hulle het.
5 “Nou is Ek teen jou,” die Here wat oor alles regeer. “Ek sal met jou doen soos 'n mens met 'n slegte vrou doen: Ek sal jou rok optel sodat die ander volke jou kaal liggaam kan sien. Hulle sal sien jy is 'n slegte vrou.
6 “Ek sal vuilgoed op jou gooi, en die mense sal sleg dink van jou. Hulle sal jou spot.
7 Almal wat jou sien, sal weggaan van jou en sê: ‘Nineve is verwoes!’ Niemand sal daaroor jammer wees nie. Ek kry niemand wat jou kan troos nie.
8 “Nineve, jy is nie beter as die stad No-Amon nie. No-Amon is langs die Nyl-rivier, en daar is water rondom die stad om die stad te beskerm.
9 In die stad was soldate van die land Kus en van Egipte en van Put en van Libië, en daarom was No-Amon baie sterk.
10 Maar die vyande het die mense van No-Amon gevang en weggevat na 'n ander land. Die vyande het die babas doodgemaak in die strate, en hulle het lootjies getrek om te sien wie kry elkeen 'n belangrike mens om sy slaaf te wees. Hulle het die belangrike mense vasgemaak met kettings en hulle weggevat.
11 “Mense van Nineve, julle sal nie weet waar julle is nie, soos dronk mense. Julle sal ook 'n plek soek waar julle kan wegkruip vir julle vyande.
12 Al julle sterk huise is soos ryp vye in vyebome. Wanneer jy die bome skud, dan val die vye in jou mond. So maklik sal julle vyande julle sterk huise vat.”
13 Julle soldate beteken niks. Hulle is soos 'n klomp vroue. Die poorte van julle stad sal oop wees, julle vyande sal die deure in die poorte verbrand.
14 Julle moet genoeg water gaan haal en dit bêre, want julle vyande sal kom wag rondom die stad se mure. Julle moet die stad se sterk mure nog sterker maak. Julle moet bakstene maak van klei.
15 Julle sal brand in die vuur. Die vyande sal julle doodmaak soos sprinkane. Julle het so baie geword soos sprinkane.
16 Julle handelaars was meer as die sterre in die lug, maar hulle is nou weg. Hulle is weg soos sprinkane wat wegvlieg wanneer hulle klaar gevreet het.
17 Die mense wat die stad moes oppas, en die amptenare, is soos sprinkane wat na 'n ander plek vlieg. Die swerms sprinkane sit op die klipmure wanneer dit koud is, maar wanneer dit warm word, dan vlieg hulle weg, en niemand weet waarnatoe hulle gaan nie.
18 Koning van Assirië, die leiers van jou mense slaap. Jou mense het gevlug en hulle is oral op die berge. Daar is niemand wat hulle bymekaarmaak nie.
19 Nineve, die vyande sal jou verwoes, en niemand sal jou weer bou nie. Al die mense sal bly wees, almal wat hoor wat met jou gebeur het. Hulle sal hande klap, want jy het wrede dinge gedoen aan almal.