Micah 2
1 Dit sal sleg gaan met die mense wat in die nag lê en dink watter verkeerde dinge hulle kan doen en dit die volgende oggend doen. Hulle dink hulle is sterk en hulle mag dit doen.
2 Hulle wil ander mense se grond hê en hulle vat dit, hulle vat 'n man se huis en sy grond.
3 Daarom sê die Here: “Julle is slegte mense. Ek sal julle straf, en niemand sal julle red nie. Julle sal nie meer so hoogmoedig wees nie. Julle sal baie swaar kry in daardie tyd.”
4 Die mense sal daardie dag hoor julle praat oor julleself en julle treur. Julle sal sê: “Die Here het ons swaar gestraf, Hy gee ons goed vir ander mense. Hy vat ons grond en gee dit vir die mense wat ons verraai het.”
5 Ja, wanneer hulle in die vergadering van die Here se volk lootjies trek om te kyk wie grond moet kry, dan sal niemand vir julle lootjies trek nie. Julle sal niks kry nie.
6 Julle sê ek moenie praat nie, ek moenie so praat nie, dit sal ons nie help nie.
7 Israeliete, julle sê: “Is die Here nou nie meer geduldig met ons nie? Is dit Hy wat hierdie dinge doen? Die Here belowe goeie dinge vir mense as hulle reg lewe!”
8 Maar die Here sê: “My volk, julle het lank gelede my vyande geword. Julle vat die klere van mense wat in julle land kom en wat dink hulle is veilig by julle. Julle vat ook die klere van julle soldate wat terugkom van die oorlog.
9 Julle jaag die vroue van my mense uit hulle mooi huise. Julle vat ook die mooi goed wat Ek vir hulle kinders gegee het om altyd aan hulle te behoort.
10 Julle moet opstaan en begin loop, julle sal nie hier bly nie. Julle het die stad onrein gemaak. Die vyande sal die stad verwoes, heeltemal verwoes.”
11 Hierdie mense wil 'n profeet hê wat lieg en bedrieg. Hulle wil 'n profeet hê wat sê: “Gee vir my wyn en bier, dan sal ek vir julle 'n profeet wees.”
12 Julle sê die Here sê: “Israeliete, Ek sal al julle mense bymekaarmaak. Ek sal die mense van Israel wat nog lewe, bymekaarmaak soos skape en bokke in 'n kraal, soos 'n klomp skape in die veld. Die land sal weer vol mense wees.
13 Ek sal hulle bring uit die lande waar hulle nou is, Ek sal voor hulle loop, en hulle sal weer by Jerusalem se poorte ingaan en uitgaan. Ek is die Here, hulle Koning, Ek sal voor hulle loop, Ek sal hulle lei.”