1Die Here het met Miga gepraat. Miga het van die stad Moreset gekom. Dit was in die tyd toe Jotam koning van Juda was. Ná Jotam was Agas koning, en ná Agas was Hiskia koning. Die Here het vir Miga gewys wat met Samaria en Jerusalem sal gebeur.
2Al die volke moet luister. Almal wat op die aarde woon, moet luister. Die Here sal sê wat julle verkeerd gedoen het. Hy kom uit sy gewyde tempel,
3Hy kom van die plek waar Hy woon. Hy kom af uit die hemel en Hy trap die offer-plekke in die land plat.
4Wanneer Hy kom, dan smelt die berge en die valleie onder Hom. Hulle verdwyn soos iets wat smelt in vuur, soos water wat afloop teen 'n heuwel.
5Die Here kom omdat die Israeliete, die nageslag van Jakob, sonde gedoen het. Samaria is die plek waar die Israeliete sonde gedoen het, Jerusalem is die offer-plek waar die mense van Juda offer.
6Die Here sê: “Ek sal Samaria heeltemal verwoes. Mense sal wingerde plant waar die stad was. Ek sal Samaria se geboue afbreek. Daar sal net 'n paar klippe oorbly.
7Die vyande sal die beelde in Samaria stukkend slaan en hulle sal die presente verbrand wat die mense na die tempel gebring het. Dit was presente vir tempel-prostitute, en die vyande sal dit gebruik om ander tempel-prostitute te betaal.”
8Ek, Miga, sal hartseer wees en treur wanneer die vyande Samaria verwoes, ek sal kaalvoet loop en my klere uittrek. Ek sal skree soos 'n jakkals, en kla soos 'n volstruis.
9Dit gaan baie sleg met Samaria. Dit gaan nou ook sleg met Juda hier in Jerusalem waar my volk woon.
10Moenie vir die mense van die stad Gat daarvan vertel nie, moenie daaroor huil nie. Gaan lê in die stof in die stad Bet-Leafra.
11Kom uit julle stad, mense van die stad Safir. Die vyande vang julle en vat julle weg. Die mense van die stad Saänan kom kaal uit hulle stad. Die mense van die stad Bet-Esel treur oor hulle mense wat dood is, die vyande het hulle stad verwoes.
12Die mense van die stad Marot het gedink dit sal goed gaan, maar die Here het dit sleg laat gaan met die stad Jerusalem.
13Mense van die stad Lakis, julle moet die perde inspan voor julle oorlogkarre. Dit is julle wat die mense van Jerusalem en Israel laat sonde doen het.
14Julle moet die mense van die stad Moreset-Gat groet, hulle moet ook gaan. Die mense wat in die stad Aksib woon, sal nie die konings van Israel kan help nie.
15Mense van die stad Maresa, die vyande sal na julle toe ook kom. Hulle sal tot by die stad Adullam kom, en niemand sal die Israeliete respekteer nie.
16Julle moet julle hare afskeer. Skeer julle koppe so kaal soos 'n aasvoël se kop, want die vyande sal die mense van al hierdie stede vang en wegvat.