1Die Here sê: “In daardie tyd sal Ek dit weer goed laat gaan in Juda en in Jerusalem.
2Ek sal al die volke bymekaarmaak en Ek sal hulle vat na die Josafat-vallei. Daar sal Ek die volke straf oor wat hulle gedoen het aan my volk, die Israeliete wat aan My behoort. Die volke het my volk weggevat na ander lande en hulle het my land vir hulleself gevat.
3Hulle het my mense slawe laat word, hulle het lootjies getrek om te kyk wie kry 'n slaaf. Hulle het my seuns en my dogters verkoop om prostitute en wyn te kry.
4En julle, mense van Tirus en Sidon en die hele Filistyne-land, wat wil julle met My doen? Wil julle My straf omdat ander volke slegte dinge aan julle gedoen het? As julle My wil straf, dan sal Ek nie wag om julle te straf nie. Ek sal julle straf oor alles wat julle verkeerd gedoen het.
5Julle het my silwer en goud gevat, julle het die mooiste goed in my tempel na julle tempels toe gevat.
6Julle het die mense van Juda en Jerusalem verkoop aan die Grieke, ver weg van my mense se land.
7Nou sal Ek my mense laat terugkom van die plekke waarnatoe hulle gegaan het toe julle hulle verkoop het. Ek sal julle straf oor alles wat julle met my volk gedoen het.
8Ek sal julle seuns en dogters verkoop aan die mense van Juda, en hulle sal julle seuns en dogters verkoop aan die mense van Skeba, die volk wat ver van hier woon.” Die Here het dit gesê.
9Julle moet vir die volke skree en sê: “Julle moet gereedmaak en julle moet gaan oorlog maak. Roep die soldate, al die soldate moet kom en hulle moet gaan oorlog maak.
10Julle moet swaarde en spiese maak van die skerp ysters waarmee julle ploeg en bome se takke afsny. 'n Man wat nie sterk is nie, moet ook sê: ‘Ek is 'n soldaat!’
11Die volke wat daar naby woon, moet gou maak en bymekaarkom, en die Here moet sy soldate bring.
12Die volke moet na die Josafat-vallei kom, want daar sal Ek die regter wees. Ek sal die volke straf wat naby woon.
13Dit is nou die tyd om hulle te straf. Die volke is soos koring wat ryp is. Bring die sekel en sny hulle af! Trap die druiwe, want die parskuip is vol, dit loop oor. Daar is baie slegte mense vir wie Ek sal straf!
14Daar sal baie mense wees, baie mense, op daardie plek waar die Here die mense sal oordeel. Die dag van die Here is naby, die dag wanneer Hy die mense sal oordeel.
15Die son en die maan sal donker word, die sterre sal nie meer skyn nie.
16Die Here sal hard praat uit Jerusalem, so hard soos 'n leeu wat brul. Die hemel en die aarde sal bewe, maar die Here sal sy volk beskerm. Die Israeliete sal veilig wees by Hom.
17Dan sal julle weet dat Ek, die Here, op Sionsberg woon. Ek is julle God die Here, en Sion is my gewyde berg. Jerusalem sal 'n gewyde stad wees. Vyande sal nooit weer deur die stad gaan nie.”
18“In daardie tyd sal dit goed gaan, daar sal baie wyn en melk wees, dit sal teen die berge en die heuwels afloop. Daar sal water wees in al die klein riviere in Juda, en daar sal water kom uit 'n fontein wat in die tempel van die Here is. Die water sal die Sittim-vallei natmaak.
19Niemand sal in Egipte kan woon nie. Edom sal 'n woestyn word, niks sal daar kan lewe nie, want die mense van Egipte en Edom het wrede dinge gedoen aan die mense van Juda, hulle het die mense van Juda vermoor.
20Maar in Juda en Jerusalem sal altyd mense woon.
21Ek sal die mense straf wat Ek nog nie gestraf het nie. Ek sal hulle straf, want hulle het mense vermoor, en Ek, die Here, sal in Jerusalem woon.”