Joel 2
1 Julle moet die ramshoring blaas en hard skree op my gewyde berg Sion. Almal wat in die land woon, moet bewe, want die dag van die Here kom nou, die dag is naby.
2 Dit sal daardie dag baie donker wees, die wolke sal swart wees. Die sprinkane sal soos baie en sterk soldate oral op die berge wees en hulle sal alles donker maak. Soos die lig in die oggend oor die berge kom, so sal die sprinkane oral op die berge wees. Daar was nog nooit so baie sprinkane nie en daar sal nooit weer so baie wees nie.
3 Waar die voorste sprinkane vreet, lyk dit of 'n vuur alles afbrand, en wanneer die agterste sprinkane weggaan, dan is die veld so kaal soos wanneer dit afgebrand het. Voordat die sprinkane kom, lyk die veld soos 'n baie mooi tuin, en wanneer hulle weggaan, dan lyk die veld soos 'n woestyn. Niks kan daar lewe nie. Daar bly niks oor nie.
4 Die sprinkane lyk soos perde, hulle hardloop soos vinnige perde.
5 Hulle raas soos wanneer oorlogkarre oor die berge jaag, hulle raas soos wanneer kaf in 'n vuur brand, soos wanneer baie soldate aankom om oorlog te maak.
6 Al die volke bewe wanneer die sprinkane kom, almal skrik, en hulle gesigte word bleek.
7 Die sprinkane hardloop soos soldate wat kom oorlog maak, hulle klim bo-oor die stad se mure. Elkeen gaan reguit vorentoe, hy draai nie links of regs nie.
8 Hulle stamp nie teen mekaar nie, elkeen loop op sy eie pad. Die mense gooi baie sprinkane met klippe dood, maar die ander sprinkane staan nie stil nie.
9 Hulle hardloop in die stad in, hulle hardloop oor die mure, hulle klim teen die huise op, hulle klim soos diewe deur die vensters.
10 Wanneer die sprinkane kom, dan bewe die aarde en skud die hemel. Dan word die son en die maan donker, en die sterre skyn nie meer nie.
11 Dit is die Here self wat die sprinkane bring. Die sprinkane is sy soldate, en Hy roep hulle om te kom. Hulle is baie soldate en hulle is sterk, en hulle almal luister na Hom. Ja, die dag van die Here is 'n vreeslike dag! Dit is 'n verskriklike dag, niemand sal lewe wanneer daardie dag verby is nie.
12 Maar die Here sê daar is nog tyd. Hy sê: “Julle moet terugkom na My toe. Julle moet My altyd dien, julle moet net vir My dien.” Julle moet vas en huil en treur.
13 Moenie net vir mense wys julle is jammer nie, wys dit vir die Here. Moenie net julle klere skeur nie, skeur julle harte. Julle moet terugkom na julle God die Here toe, want Hy is genadig en goed vir mense wat swaarkry. Hy is geduldig en vol liefde. Hy vergewe mense se sonde maklik.
14 Miskien sal Hy julle sonde vergewe en julle weer seën. Dan sal daar weer koring-offers en drank-offers wees vir julle God die Here.
15 Julle moet die ramshoring blaas op Sionsberg. Julle moet 'n dag aan die Here wy, en almal moet op daardie dag vas. Julle moet al die mense roep om bymekaar te kom.
16 Julle moet die mense bymekaarmaak en die gemeente wy, julle moet al die mense bymekaarmaak, die mense wat oud is, die kinders en ook die babatjies wat nog aan hulle ma’s drink. Die bruidegom en die bruid moet ook uitkom uit hulle slaapkamer.
17 Die priesters moet dan tussen die tempel en die altaar staan en hulle moet huil. Die priesters, die mense wat vir die Here werk, moet dan bid en sê: “Here, U moet asseblief jammer wees vir u volk, ons behoort aan U. Die ander volke spot en lag vir ons. U moet hulle stop. Hulle sê: ‘Waar is daardie mense se God? Hoekom help Hy hulle nie?’ ”
18 Die Here is baie lief vir sy land. Hy was jammer vir sy volk.
19 Die Here het vir sy volk gesê: “Ek stuur vir julle al die koring en wyn en olyf-olie wat julle nodig het. Ek sal julle help. Die ander volke sal julle nie weer spot nie.
20 Die sprinkane het julle aangeval soos julle vyande wat altyd van die noorde kom. Maar Ek sal die sprinkane wegvat, ver weg van julle. Ek sal hulle wegjaag na 'n droë land. Niks kan daar lewe nie. Die sprinkane wat voor is, sal in die Dooie See val, en die sprinkane wat agter is, sal in die Middellandse See val. Hulle sal vrek en stink.” Die Here sal 'n wonderwerk doen.
21 Die mense van die land moenie bang wees nie, hulle moet bly wees en juig, want die Here sal 'n wonderwerk doen.
22 Die diere moenie bang wees nie, want die veld waar die diere wei, sal groen word. Die bome sal vrugte kry, daar sal baie vye en druiwe wees.
23 En julle, mense van Jerusalem, julle moet juig, julle moet bly wees oor julle God die Here, want Hy gee vir julle reën op die regte tyd, Hy gee reën vroeg in die jaar en ook laat in die jaar, soos Hy voorheen gedoen het.
24 Die dorsvloere sal vol koring wees, daar sal baie wyn en olyf-olie in die parskuipe wees.
25 Die Here sê: “Ek het vier maal sprinkane na julle toe gestuur, die sprinkane was my soldate en hulle was baie. Maar nou sal dit weer goed gaan met julle.
26 Julle sal baie kos hê, meer as wat julle kan eet. Julle sal die Naam van julle God die Here prys. Ek sal vir julle wonderwerke doen, en die ander volke sal my volk nooit weer spot nie.
27 Julle sal weet dat Ek by die Israeliete is, Ek is julle God die Here, daar is nie 'n ander God nie. Die ander volke sal nooit weer my volk spot nie.”
28 Die Here sê: “Wanneer dit alles gebeur het, dan sal Ek my Gees gee vir al die mense. Julle seuns en julle dogters sal profete wees. Die ou mense en die jong mense sal droom en sien wat later sal gebeur.
29 Ek sal in daardie tyd my Gees ook vir slawe en slavinne gee.
30 Ek sal vir die mense tekens wys. Daar sal bloed op die aarde wees, en vuur en rook in die lug.
31 Die son sal donker word, en die maan sal rooi word. Dan sal die dag van die Here kom, die groot en verskriklike dag.
32 Dan sal almal vry word wat die Here aanbid. Almal wat nog lewe, sal vry word in Jerusalem, op Sionsberg.” So het die Here gesê vir die mense wat Hy geroep het.