Bible

Say Goodbye

To Clunky Software & Sunday Tech Stress!

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Joel 1

:
Afrikaans - ABA
1 Die Here het met Joël gepraat. Joël was die seun van Petuel.
2 Julle wat leiers is, moet luister, julle almal wat in die land woon, moet hoor wat die Here sê. Die dinge wat nou gebeur, het nog nooit voorheen gebeur nie.
3 Julle moet dit vir julle kinders vertel, en julle kinders moet dit vir hulle kinders vertel, en hulle kinders moet dit ook vir hulle kinders vertel.
4 Daar het baie sprinkane gekom, hulle het vier maal gekom, en elke maal het hulle al die plante opgevreet.
5 Die mense wat altyd dronk is, moet nou wakker word en huil. Almal wat lief is vir wyn, moet huil, want daar is niks wyn om te drink nie.
6 Die sprinkane was soos soldate wat sterk en baie is. Hulle het die land aangeval, hulle het tande en kakebene soos leeus.
7 Hulle het die vyebome kaal gevreet en hulle het ook die wingerde verwoes. Hulle het die bome se bas afgevreet en uitgespoeg, die takke is kaal.
8 Julle moet treur. Julle moet huil soos 'n jong meisie wat treur omdat haar verloofde dood is.
9 Daar is nie koring-offers en drank-offers by die tempel van die Here nie. Daarom treur die priesters wat vir die Here werk.
10 Daar groei niks op die koringland nie, die grond is droog. Daar is niks koring nie, die druiwe is droog en dood, en ook die olywe.
11 Die boere weet nie wat om te doen nie, hulle huil oor die koring en die gars, want in die grond groei niks wat hulle kan afsny nie.
12 Die wingerde en die vyebome is droog en dood, en ook die granaatbome, die palmbome en die appelbome. Al die bome is droog en dood. Daar is niks waaroor die mense bly kan wees nie.
13 Die priesters wat by die altaar werk, moet rouklere aantrek, hulle moet huil en treur. Hierdie mense wat vir my God werk, moet rouklere aantrek ook wanneer hulle gaan slaap, want daar is nie koring-offers en drank-offers in die tempel van hulle God nie.
14 Hulle moet 'n dag aan die Here wy en almal moet op daardie dag vas. Hulle moet die leiers en almal wat in die land woon, bymekaarmaak in die tempel van hulle God die Here, en dan moet hulle vir die Here vra om hulle te help.
15 Die dag van die Here is naby. Dit is 'n dag wanneer almal bang sal wees! Die Almagtige God wil alles verwoes.
16 Ons sien daar is niks om te eet nie. Niemand is bly in die tempel van ons God nie, niemand juig nie.
17 Die koringsaad nog onder die droë grond, die stoorkamers is leeg, die plekke waar ons koring bêre, val inmekaar, want daar is nie koring nie.
18 Die beeste bulk en raas, hulle loop oral rond, want daar is niks om te vreet nie. Die skape en bokke kry ook swaar.
19 Here, ek bid tot U, help ons. 'n Vuur het al die bome en die veld afgebrand waar die diere wei.
20 Ook die wilde diere wag dat U help, want daar is nie water in die riviere nie, en die veld waar hulle wei, het afgebrand.