Job 8
1 Bildad van die land Suag het begin praat. Hy het vir Job gesê:
2 “Hoe lank wil jy aanhou om hierdie dinge te sê? Wanneer jy praat, dan is dit soos 'n sterk wind wat waai.
3 God, die Almagtige, doen net wat reg is.
4 As jou kinders sonde gedoen het teen Hom, dan het Hy hulle gestraf oor hulle sonde.
5 Jy moet vir God, die Almagtige, vra om genadig te wees vir jou.
6 As jy regtig onskuldig en eerlik is, ja, dan sál Hy luister na jou en Hy sal weer vir jou die dinge gee wat jy moet kry.
7 Toe jy begin het, het jy min gehad, maar jy sal baie kry.
8 Vra vir mense wat ouer is as jy, vra hoe dit gegaan het met hulle voorvaders.
9 Want ons wat gister gebore is, ons weet niks, ons lewe op die aarde gaan gou verby, soos 'n skaduwee.
10 Die ouer mense sal vir jou leer, hulle sal vir jou sê wat hulle weet.
11 Riete groei net waar die grond nat is, hulle groei waar daar water is.
12 As daar nie water is nie, dan word die riete droog voordat die gras droog word, die riete word droog voordat dit groot is, voordat 'n mens dit kan afsny.
13 So gaan dit met 'n mens wat vir God vergeet. 'n Mens wat nie vir God wil dien nie, kan niks hoop nie.
14 Hy is soos iemand wat dink dat hy aan 'n dun draadjie kan hang, soos iemand wat dink 'n spinnerak kan sy huis wees.
15 As hy teen so 'n huis wil lê, dan gly die huis weg, as hy daaraan wil vashou, dan is dit nie daar nie.
16 Hy is soos 'n jong plant in die son. Die plant se blare hang oor die tuin,
17 en sy wortels gaan tussen hope klippe in, dit groei vas aan die klippe.
18 Maar wanneer iemand die plant uittrek, dan sê die mense: ‘Ons het die plant nooit gesien nie.’
19 Hy het min gehad waaroor hy bly kon wees, en daar groei ander plante uit die grond.
20 Jy moet weet, God sal nie 'n mens los wat heeltemal reg doen nie, en Hy sal nie slegte mense help nie.
21 Hy sal jou weer gelukkig maak, Hy sal jou laat sing omdat jy bly is.
22 Dit sal sleg gaan met die mense wat vir jou haat, die huis van mense wat verkeerd doen, sal nie bly staan nie.”