Bible

Upgrade

Your Church Presentations in Minutes

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Job 28

:
Afrikaans - ABA
1 Job het gesê: “Dit is waar: Daar is 'n plek waar mense silwer kan kry, en daar is 'n plek waar hulle goud kan uitgrawe.
2 Hulle haal yster uit die grond en hulle smelt koper uit klip.
3 Hulle maak lig waar dit donker is, hulle soek klippe oral waar hulle kan, hulle soek tot in die donkerste diep plekke.
4 Hulle grawe slote ver weg van waar mense woon, mense wat verbykom, weet nie van hulle nie, en waar hulle aan toue hang en swaai, is daar nie ander mense nie.
5 Kos groei uit die aarde bo hulle, maar onder die aarde verwoes hulle alles, dit lyk of daar 'n vuur was.
6 Daar is saffier in die rotse van die aarde en daar is goud in die stof.
7 Die arend ken nie daardie pad nie, en die valk sien dit nie.
8 Die trotse wilde diere loop nie daar nie, die leeu loop nie daar verby nie.
9 Die mense kap die harde rots en hulle grawe diep onder die berge.
10 Hulle kap slote in die rotse en hulle soek alles wat kosbaar is.
11 Hulle maak die plekke toe waar daar water uitkom en hulle kry dinge, niemand het voorheen daarvan geweet nie.
12 Maar die wysheid, waar kry 'n mens dit? Waar kan jy leer om verstandig te wees?
13 Mense weet nie hoe kosbaar die wysheid is nie, en jy sal dit nie in hierdie wêreld kry nie.
14 Die diep water sê: ‘Die wysheid is nie in my nie,’ die see sê: ‘Die wysheid is nie by my nie.’
15 Jy kan nie wysheid koop nie, ook nie met goud nie, jy sal nie kan weeg hoeveel silwer dit sal kos nie.
16 Jy kan nie daarvoor betaal met goud uit Ofir, of met kosbare oniks en saffier nie.
17 Goud en glas sal nooit genoeg kan wees nie, jy kan nie wysheid ruil vir goue juwele nie.
18 En koraal of kristal sal ook nie genoeg wees nie, en ook nie pêrels nie, wysheid is baie meer kosbaar as dit alles.
19 Topaas uit die land Kus of die skoonste goud sal nie genoeg wees nie, jy kan nie daarmee betaal vir wysheid nie.
20 Maar die wysheid, van waar kom dit? Waar kan jy leer om verstandig te wees?
21 Niks wat lewe, kan die wysheid sien nie, ook nie die voëls in die lug nie.
22 Die onderwêreld en die dood sê: ‘Ons het net gehoor dat mense praat van die wysheid, maar ons het dit nie gekry nie.’
23 Net God weet waar 'n mens wysheid kan kry, net Hy weet waar dit is,
24 want Hy sien tot waar die aarde ophou, Hy sien alles onder die hemeldak.
25 Toe God besluit het hoe sterk die wind moet wees en hoeveel water daar in die wolke moet wees,
26 toe Hy besluit het waar die reën moet val en waarnatoe die donderstorm moet gaan,
27 toe het Hy die wysheid gesien en Hy het daaroor gepraat, Hy het gesê hoe dit moet wees, en Hy het nog meer gedoen, Hy het die wysheid ook getoets.
28 En toe het Hy vir die mense gesê: Wysheid is om die Here te respekteer en te dien. As jy verstandig wil wees, dan moet jy nie verkeerd doen nie.”