Job 29
1 Job het weer begin praat. Hy het gesê:
2 “Ek wens ek was nog soos lank gelede, soos in die tyd toe God my beskerm het.
3 God het sy lig oor my laat skyn, en ek het geweet waar om te loop wanneer dit donker was.
4 Ek was toe jonk en sterk, en God was saam met my in my huis.
5 Die Almagtige was by my, en my kinders was rondom my.
6 Ek het lekker gelewe, daar was genoeg melk, meer as genoeg, en daar was strome olyf-olie.
7 Wanneer ek na die poort van die stad gegaan het en op die oop stuk grond gaan sit het,
8 dan het die jongmans 'n entjie weg gaan staan, en die ou mans het opgestaan en bly staan.
9 Die leiers het stilgebly en hulle het nie meer gepraat nie.
10 Die belangrike mense het opgehou praat en hulle het nie weer iets gesê nie.”
11 “Mense wat my gehoor en gesien het, het my gelukgewens en hulle het goeie dinge oor my gesê.
12 Dit was omdat ek mense gered het wat hulleself nie kon help nie, mense wat gevra het dat ek hulle moet help. En ek het ook weeskinders gehelp wat niemand gehad het om hulle te help nie.
13 Mense wat naby die dood was, het my geseën, en weduwees was bly oor wat ek vir hulle gedoen het.
14 Ek het altyd reg gedoen aan almal, ek het dit elke dag gedoen soos 'n mens elke dag klere aantrek.
15 Ek het blinde mense gelei en ek het mense wat kreupel is, gehelp om te loop.
16 Ek was soos 'n pa vir arm mense, ek het mense gehelp wanneer hulle voor die hof moes kom, mense wat ek nie geken het nie.
17 Ek het gekeer wanneer slegte mense wreed was en wanneer hulle slegte dinge gedoen het aan ander mense.
18 Ek het gedink ek sal lank lewe en gelukkig sterf,
19 ek het gedink ek sal wees soos 'n boom wanneer sy wortels naby die water is, elke môre is daar dou op sy takke.”
20 “Mense het my altyd gerespekteer, en ek het elke dag nuwe krag gekry.
21 Hulle het graag geluister na my en hulle het gewag dat ek vir hulle sê wat hulle moet doen.
22 Wanneer ek klaar gepraat het, dan was hulle tevrede, my woorde was vir hulle soos druppels reën.
23 Hulle het gewag dat ek moet praat, soos hulle gewag het dat dit moet reën, my woorde was vir hulle so welkom soos die laat reën.
24 Ek was vriendelik met hulle toe hulle gedink het ek sal nie vriendelik wees nie. My vrolike gesig het hulle bemoedig.
25 Ek was hulle leier en hulle hoof, ek was soos 'n koning by sy leër, soos iemand wat mense bemoedig, mense wat huil en treur.”