Job 27
1 Job het weer begin praat. Hy het gesê:
2 “God het nie reg gedoen aan my nie, die Allerhoogste God het my laat swaarkry, Hy het my lewe bitter gemaak. Maar so seker soos God lewe,
3 [3-4] ek sal niks sê wat verkeerd is nie, ek sal nie lieg nie, so lank soos ek lewe, so lank soos God vir my lewe gee.
4 ***
5 Ek sal nooit kan sê dat julle reg is nie, ek sal aanhou sê dat ek onskuldig is, so lank soos ek lewe.
6 Ek sal aanhou sê dat ek reg gelewe het, ek sal nie anders praat nie. Ek sal nie jammer wees oor enige iets wat ek in my lewe gedoen het nie.”
7 “Ek bid dat dit met my vyande sal gaan soos met mense wat verkeerde dinge doen, ek bid dat dit met die mense wat téén my is, sal gaan soos met mense wat slegte dinge doen.
8 Want die mens wat nie vir God wil dien nie, kan nie hoop dat dit goed sal gaan wanneer hy moet sterf nie, hy kan niks hoop wanneer God hom laat sterf nie.
9 God sal nie luister wanneer dit sleg begin gaan met daardie mens, en wanneer hy skree en vra dat God hom moet red nie.
10 Die mens wat nie vir God wil dien nie, hou nie van die Almagtige nie en hy bid nooit tot Hom nie.”
11 “Ek wil vir julle leer wat God kan doen, ek wil vir julle reguit sê wat Hy besluit het.
12 Julle weet dit, julle almal het dit self gesien. Daarom, hoekom hou julle aan om nonsens te praat?”
13 “Ek sal vir julle sê wat God besluit het, ek sal vir julle sê wat sal gebeur met die mense wat verkeerd doen. Dit is wat die Almagtige sal doen aan die mense wat altyd vir ander mense wil seermaak en doodmaak:
14 Hulle sal miskien baie seuns kry, maar die seuns sal nooit genoeg kos hê om te eet nie en hulle sal in oorlog sterf.
15 As daar dan nog seuns lewe, dan sal hulle sterf van pes, en hulle weduwees sal nie rou oor hulle nie.
16 Die mens wat verkeerd lewe, sal miskien baie silwer bymekaarmaak, so baie soos stof. Hy sal miskien baie hope klere hê, so baie soos klei.
17 Maar die mense wat reg lewe, sal daardie klere dra. Mense wat nie verkeerd gedoen het nie, sal die silwer tussen hulle verdeel.
18 Die mens wat verkeerd doen se huis kan hom nie beskerm nie. Hy is soos 'n wurmpie in sy nes, of soos 'n wag in 'n huisie van takke, sy huis kan hom nie beskerm nie.
19 Hy is 'n ryk man wanneer hy gaan slaap, maar wanneer hy sy oë oopmaak, dan is alles weg, hy is nie meer ryk wanneer hy weer gaan slaap nie.
20 Hy word skielik baie bang, so bang soos wanneer water oor hom spoel, die stormwind waai hom weg in die nag.
21 Die oostewind waai hom uit sy huis en hy is weg.
22 Die wind is nie jammer vir hom nie, hy probeer vlug, maar die wind waai hom weg.
23 Die wind is bly oor wat met hom gebeur, dit blaas hom weg uit sy plek.”