Job 23
1 Job het weer gepraat. Hy het gesê:
2 “Ek is nog hardkoppig, ek wil aanhou kla, ek sal nie ophou nie.
3 As ek weet waar ek vir God kan kry, dan sal ek na Hom toe gaan waar Hy is.
4 Ek sal vir Hom vra om te luister na wat ek sê, ek sal aanhou praat.
5 Ek sal luister na wat Hy vir my sê wanneer Hy my antwoord.
6 Hy sal nie met al sy krag téén my wees nie, ek is seker dat Hy sal luister na my.
7 Ek is 'n eerlike mens, ek sal met God praat en alles vir Hom vertel. God is my Regter en Hy sal my vir altyd vrymaak.
8 Maar Hy is nie daar waar ek Hom soek nie, Hy is nie in die ooste of in die weste nie.
9 As Hy in die noorde werk, dan kry ek Hom nie, as Hy na die suide gaan, dan sien ek Hom nie.
10 Maar Hy weet watter pad ék loop, as Hy my toets, dan sal Hy sien dat ek so skoon soos goud is.
11 Ek het gelewe soos Hy wil hê, ek het aangehou om te loop op sy pad, ek het nie op 'n ander pad geloop nie.
12 Ek het gehoorsaam gebly aan alles wat Hy gesê het, ek het altyd onthou dat Hy besluit wat met my sal gebeur.”
13 “En Hy? Hy alleen besluit, en niemand kan Hom keer nie. Hy doen wat Hy besluit.
14 Ja, Hy sal doen wat Hy oor my besluit het, en Hy het baie dinge besluit.
15 Dit is hoekom ek so bang is vir Hom, ek is bang wanneer ek aan Hom dink.
16 God het my moedeloos gemaak, die Almagtige het my bang laat word,
17 want dit is nie die donker wat my laat stilbly nie, dit is Gód wat die donker oor my gebring het sodat ek nie weet wat om te doen nie.”