Job 22
1 Elifas van die land Teman het weer gepraat. Hy het gesê:
2 “God kan alles self doen, Hy het nie mense nodig nie, nee, Hy het ook nie slim mense nodig nie.
3 Dink jy die Almagtige moet bly wees omdat jy reg gelewe het? Of dink jy dit het Hom gehelp dat jy nooit verkeerd gedoen het nie? Nee.
4 Job, dink jy dat Hy jou straf omdat jy Hom gedien het, dink jy dat Hy wil sê dit is hoekom jy skuldig is?
5 Nee, dit is omdat jy baie sleg gelewe het, jy het so baie sonde gedoen dat 'n mens dit nie kan tel nie. Dít is hoekom Hy jou straf.
6 Ja, jy het jou eie mense se klere gevat, ook toe hulle niks vir jou geskuld het nie, jy het arm mense kaal laat loop.
7 Jy het nie water gegee vir mense wat moeg is nie, jy het nie kos gegee vir honger mense nie.
8 Al die grond behoort aan die man wat ryk en sterk is, en sy vriende woon daarop.
9 Jy het niks gegee vir weduwees nie, jy het weeskinders se goed gevat.
10 Dit is hoekom daar vangstrikke om jou is, dit is hoekom jy nou baie bang geword het.
11 Dit het vir jou so donker geword dat jy niks kan sien nie. Dit is soos wanneer daar baie water oor jou vloei.
12 Jy dink dat God ver bo in die hemel is, ja kyk, Hy is bokant die sterre wat baie hoog is.
13 En jy vra: ‘Wat weet God? Kan Hy deur die donker wolke sien om mense te oordeel?’
14 Jy dink dat die wolke Hom toemaak sodat Hy nie kan sien nie, jy dink dat Hy bokant die hemeldak loop.
15 Wil jy dan aanhou lewe soos die mense wat vóór jou gelewe het, die mense wat sleg gelewe het?
16 Daardie mense het gesterf toe hulle jonk was, hulle was soos huise wat weggespoel het.
17 Hulle het vir God gesê: ‘Gaan weg van ons!’ Hulle het gesê: ‘Wat kan die Almagtige aan ons doen? Niks.’
18 Hulle het dit gesê vir Hom wat hulle ryk gemaak het. Die mense wat verkeerd doen, dink nie soos ek dink nie.
19 Mense wat reg doen, die onskuldige mense, is bly en hulle lag wanneer hulle sien dat God die sondaars straf.
20 Die mense wat reg doen, sê dan: ‘Ons vyande is dood, en alles wat hulle gehad het, het verbrand.’
21 Job, jy moet vrede maak met God, dan sal dit weer goed gaan met jou.
22 Jy moet luister na wat Hy vir jou sê, jy moet dit goed onthou.
23 As jy terugkom na die Almagtige toe, as jy ophou om sonde te doen, dan sal jy weer word soos jy voorheen was.
24 Jy moet onthou dat goud nie méér kosbaar is as stof nie, jy moet onthou dat die beste goud nie méér kosbaar is as die klippe in die rivier nie.
25 Dan sal die Almagtige vir jou wees soos goud, soos die beste silwer.
26 Ja, dan sal jy bly wees dat die Almagtige jou God is, jy sal weet dat Hy goed wil wees vir jou.
27 Jy sal dan tot Hom bid, en Hy sal doen wat jy vra, en jy sal jou geloftes betaal.
28 Jy sal besluit oor iets, en dit sal gebeur, daar sal lig wees op jou pad.
29 Wanneer God mense onbelangrik laat word, en jy vra dat Hy hulle weer belangrik moet laat word, dan sal God dit doen, Hy red nederige mense.
30 God sal 'n mens red, ook wanneer die mens skuldig is. En Hy sal jóú red as jy onskuldig is.”