Job 21ABA

1Job het weer gepraat. Hy het gesê:

2“Julle moet goed luister na wat ek sê, dan sal julle my beter kan troos.

3Julle moet geduldig wees met my sodat ek kan praat. Julle kan spot wanneer ek klaar gepraat het.

4Ek kla nie oor mense nie, ek kla oor God. En hoekom mag ek nie ongeduldig wees nie?

5Julle moet na my kyk, dan sal julle geskok en ontsteld wees en dan sal julle stilbly.

6As ek daaraan dink, dan word ek baie bang, en my hele liggaam bewe.”

7“Ek vra hoekom kan die mense wat verkeerd doen, aanhou lewe en oud word. Hoekom word hulle baie belangrik?

8Hulle nageslag is by hulle, hulle sien dat hulle afstammelinge het.

9Dit gaan goed met hulle huisgesinne, hulle is nie bang nie, God laat hulle nie swaarkry nie.

10Die mense wat verkeerd doen se beeste kry meer en meer kalwers.

11Hulle kinders hardloop rond en hulle dans soos skape en bokke.

12Die mense wat verkeerd doen, sing en hulle vier fees, hulle speel op die tamboeryn en die lier en die fluit.

13Hulle lewe gelukkig en hulle het vrede wanneer hulle sterf.

14Hulle sê vir God: ‘Los ons, ons wil nie weet wat U wil hê ons moet doen nie.

15Wie is die Almagtige, hoekom moet ons Hom dien? Sal dit help as ons Hom soebat om ons te help?’

16Hierdie mense dink dat dit goed gaan met hulle omdat hulle self daarvoor werk. Die mense wat verkeerd doen, dink nie soos ek dink nie.

17Blaas God die lamp dood van die mense wat verkeerd doen? Nee! Laat Hy dit sleg gaan met hulle? Word Hy kwaad vir hulle en straf Hy hulle?

18Verdwyn hulle soos kaf wat wegwaai of soos droë blare in 'n stormwind? Nee!

19Julle sê God straf die kinders van die mense wat verkeerd doen. Maar ek sê Hy moet die óúers self straf, húlle moet dit self voel.

20Die sondaar moet self swaarkry, hy moet weet dat die Almagtige kwaad is vir hom.

21Die sondaar is nie bekommerd oor hoe dit sal gaan met sy huisgesin nadat hy self gesterf het nie.

22Niemand kan vir God iets leer wat Hy nie weet nie, God wat regeer oor almal in die hemel.

23Een mens bly gesond totdat hy sterf, hy lewe rustig en veilig,

24hy eet lekker en hy word vet.

25'n Ander mens is nooit gelukkig nie, hy kry swaar totdat hy sterf.

26Maar hulle altwee sterf en hulle word begrawe, en die wurms vreet hulle op.

27Ek weet wat julle dink, ek weet dat julle my nog meer wil laat seerkry.

28Julle wil vra: ‘Waar is die huis van die belangrike man? Wat het oorgebly van die plek waar die mense gewoon het wat verkeerd doen?’ Niks!

29Het julle vir die mense gevra wat op die pad verbykom? En as julle gevra het, het julle geluister? Nee!

30Hulle sou vir julle gesê het dat 'n slegte mens veilig bly wanneer dit sleg gaan met ander mense. Hulle sou gesê het dat die slegte mens aanhou lewe wanneer God ander mense straf.

31Niemand sê vir die slegte mens dat hy verkeerd gedoen het nie, niemand straf hom oor sy sondes nie.

32En wanneer hy sterf en begrawe word, dan sal die mense wagstaan by sy graf.

33Hy kry 'n mooi graf in die vallei, en baie mense loop saam, hulle loop voor en agter sy lyk, hulle is so baie mense dat niemand hulle kan tel nie.

34Nee, julle probeer om my te troos met wind, julle is vals wanneer julle hierdie dinge vir my sê.”

© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Choose Translation

Switch translation for Job 21.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.