Job 20
1 Sofar van die land Naäma het weer gepraat. Hy het gesê:
2 “Job, luister na my, ek dink ek moet praat, ek voel dat ek móét praat.
3 Ek hoor dat jy vir my wil leer maar jy beledig vir my. Ek verstaan nie wat jy dink wanneer jy my nie antwoord nie.
4 Jy weet dit goed, dit was lank gelede so, dit was so vandat God mense op die aarde gesit het:
5 Wanneer mense juig wat verkeerd doen, dan kan hulle dit nie lank doen nie. Iemand wat nie vir God wil ken nie, kan net 'n kort tydjie bly wees.
6 So iemand word miskien baie belangrik, hy is hoogmoedig en hy loop met sy neus in die lug,
7 maar hy sal so vinnig verdwyn soos sy mis. Mense wat hom voorheen gesien het, sal vra: ‘Waar is hy?’
8 Hy sal weggaan soos 'n droom, en jy sal hom nie kry nie. Mense sal hom vergeet, soos hulle vergeet wat hulle gesien het toe hulle gedroom het.
9 Niemand sal hom weer sien nie, hy sal nooit weer wees waar hy was nie.
10 Hy sal self die goed moet teruggee wat hy bymekaargemaak het, en sy kinders sal rente moet betaal op alles wat hy gevat het van arm mense.
11 Hy sal nog sterk en gesond wees, maar hy sal in sy graf moet gaan lê.
12 Dit was vir hom lekker om verkeerd te doen, hy het dit geniet soos lekker kos
13 wat hy in sy mond hou en stadig insluk.
14 Maar daardie kos sal verander in sy maag, dit sal so bitter word soos 'n slang se gal.
15 Hy het baie goed bymekaargemaak, maar hy sal dit verloor soos kos wat 'n mens opbring wanneer hy naar is. God sal dit met hom laat gebeur.
16 Hy sal die gif van 'n slang moet insuig, 'n adder se tong sal hom laat sterf.
17 Hy sal niks kan geniet nie, ook nie as daar riviere vol heuning en dikmelk is nie.
18 Hy sal alles moet teruggee wat hy gekry het toe hy gewerk het, hy sal dit nie kan gebruik nie. Hy sal koop en verkoop en ryk word, maar hy sal dit nie geniet nie.
19 Want hy het op arm mense getrap en hy het hulle nie gehelp nie. Hy het huise vir homself gevat wat ander mense gebou het.
20 Hy kry nooit genoeg nie, hy wil altyd meer hê.
21 Wanneer hy eet, dan bly daar niks oor nie, en dit is hoekom dit nie sal aanhou goed gaan met hom nie.
22 Hy het baie goed, meer as wat hy nodig het, maar dit sal skielik sleg gaan met hom, hy sal baie swaar kry.
23 Hy sal iets anders moet eet en hy sal vol word daarvan. God sal kwaad word en God sal hom straf, dít sal die kos wees wat daardie mens moet eet. Die slegte dinge sal op hom val soos reën.
24 Wanneer hy vlug vir 'n vyand met 'n yster-swaard, dan sal 'n vyand met 'n brons-boog hom raakskiet.
25 Wanneer hy die pyl uittrek uit sy rug, die blink punt van die pyl wat deur sy gal gegaan het, dan sal hy bang wees, want hy sal weet dat hy sterf.
26 Die donker wag vir hom en vir alles wat hy het, 'n vuur sal brand, niemand het dit aangesteek nie, en alles wat hy het, sal verbrand.
27 Die hemel en die aarde sal getuig teen hom.
28 Wanneer God kwaad word en Hy wil die persoon straf, dan verloor daardie persoon alles.
29 Dit is wat God laat gebeur met die mens wat verkeerd doen.”