1Ek is naby die dood, my lewe is verby, die graf wag vir my.
2Ja, almal spot my, ek sien dat almal téén my is.”
3“God, U moet asseblief borg staan vir my, niemand anders sal dit doen nie.
4U keer sodat my vriende nie kan verstaan nie, daarom moet U hulle nie laat wen nie.
5As iemand sy vriende verraai, dan sal sy kinders swaarkry.”
6“Mense gebruik my naam wanneer hulle mekaar wil verneder, hulle spoeg in my gesig.
7Ek kry so swaar dat ek amper nie meer kan sien nie, my liggaam is soos 'n skaduwee.
8Eerlike mense skrik wanneer hulle my sien, onskuldige mense word opstandig teen mense wat nie vir God wil dien nie.
9Die mense wat reg lewe, hou aan om reg te lewe, mense wat goed doen, word altyd sterker.
10Julle kan almal weer probeer om die regte dinge te sê, maar ek sal nie wysheid kry by julle nie.”
11“My lewe het verbygegaan, ek kan nie meer die dinge doen wat ek graag wou doen nie.
12My vriende dink my nag is dag, hulle dink die lig is naby wanneer dit vir my donker is.
13Ek kan sê dat ek in die doderyk wil woon, ek kan daar in die donker 'n plek kry om te lê,
14ek kan vir die graf sê: ‘Jy is my pa,’ ek kan vir die wurms sê: ‘Julle is my ma en my susters,’
15maar dan kan ek niks meer hoop nie, en niemand kan vir my help om weer te hoop nie.
16Alles wat ek gehoop het, gaan dan saam met my in die doderyk in, en ons lê daar saam in die stof.”