Job 18ABA

1Bildad van die land Suag het weer gepraat. Hy het gesê:

2“Hoe lank wil julle aanhou praat? Julle moet eers goed dink en dán moet julle praat.

3Hoekom hou Job aan om te maak of ons diere is? En hoekom dink hy dat ons dom is?

4Job, jy is so kwaad dat jy jouself wil stukkend skeur. Moet al die mense op die aarde verdwyn? Moet 'n rots wegskuif uit sy plek sodat jy tevrede kan wees?

5Dit ís waar, die mens wat verkeerd doen, sterf, ja, sy lig gaan uit, sy vuur hou nie aan om te brand nie.

6Dit word donker in sy tent, sy lamp gaan dood.

7Die treë wat hy loop, was voorheen lank, maar dit word nou korter, hy besluit self wat hy wil doen, en daarom val hy.

8Sy voete bring hom in 'n vangnet, hy loop reguit in die net in.

9Die net vang hom aan sy voet, dit gryp hom vas.

10Hy sien nie die tou voor hom nie, hy sien nie die vangstrik op sy pad nie.

11Daar is baie dinge wat hom laat skrik, dinge wat hom na al die kante toe jaag.

12Dit gaan gou sleg met hom, sy probleme is altyd naby.

13Siekte vreet sy vel weg, sy vingers, sy arms, sy tone en sy bene sterf en val af.

14Hy dink dat hy veilig is in sy tent, maar hy moet daar weggaan, almal is bang vir die plek waarnatoe hy gaan.

15Niks bly oor in sy tent nie, mense gooi swael oor sy woonplek en hulle steek dit aan die brand.

16Hy is soos 'n boom wanneer die boom se wortels droog word en sy blare verlep.

17Niemand sal onthou dat daar so 'n mens was nie, die mense op die straat sal nie sy naam ken nie.

18Mense jaag hom weg van die lig na die donker, hulle jaag hom weg uit die wêreld.

19Hy sal nie 'n nageslag hê nie, niemand sal aanhou lewe waar hy gewoon het nie.

20Al die mense van al die plekke sal bang word wanneer hulle sien wat met hom gebeur.

21Ja, so sal dit gaan met die woonplek van 'n slegte mens, dit is wat sal gebeur met 'n persoon wat nie vir God wil ken nie.”

© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Choose Translation

Switch translation for Job 18.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.