Job 15
1 Elifas van die land Teman het begin praat. Hy het gesê:
2 “'n Man wat wysheid het, moenie nonsens praat nie, sy woorde moenie soos die wind wees nie.
3 Sy antwoord moenie niks beteken nie, hy moenie dinge sê wat niks help nie.
4 Maar jý doen iets wat baie slegter is, jy sal mense laat ophou om vir God te dien, hulle sal nie meer oor Hom wil dink nie.
5 Dit is jou sonde wat jou so laat praat en wat vir jou sê om daardie slim woorde te kies.
6 Die dinge wat jy sê, wys dat jy skuldig is, jou eie woorde wys dat jy verkeerd is.
7 Job, dink jy dat jy die eerste mens is wat gebore is? Dink jy dat jy daar was voordat die heuwels daar was?
8 Luister jy wanneer God en sy engele met mekaar praat? Dink jy dit is net jy wat wysheid het?
9 Wat weet jy wat ons nie weet nie? Ons verstaan ook alles wat jy verstaan.
10 Ons kry ons wysheid by die oumense, by mense wat ouer is as jou pa.
11 God wil vir jou troos en Hy wil mooi met jou praat. Beteken dit niks vir jou nie?
12 Hoekom is jy kwaad, hoekom lyk jou oë so kwaai?
13 Hoekom wil jy met God raas, hoekom sê jy hierdie dinge?
14 Niemand is heeltemal rein nie, niemand is onskuldig nie.
15 Kan God sy engele vertrou en is die hemel self rein genoeg vir Hom? Nee.
16 Hy kan mense nog minder vertrou, mense wat sleg is, baie sleg, mense wat aanhou om sleg te wees.
17 Luister na my, ek wil iets vir jou leer, ek wil vir jou sê wat ek self gehoor het.
18 Wyse mense het dit gesê, hulle het dit gehoor by hulle voorvaders in die tyd toe hulle die land gekry het. Die land het toe net aan hulle behoort, daar was nie ander mense by hulle nie.
19 Die wyse mense het gesê:
20 ‘Die mens wat verkeerd doen, die mens wat altyd ander mense wil seermaak en doodmaak, daardie mens is altyd bang, so lank soos hy lewe.
21 Hy hoor altyd dinge wat hom laat skrik. Wanneer hy dink dat hy veilig is, dan val mense hom aan, mense wat alles wil verwoes.
22 Hy kan nie hoop dat hy sal aanhou lewe nie, daar is altyd mense wat hom wil doodmaak.
23 Hy moet rondswerf om kos te kry, hy weet dat sy dood naby is.
24 Hy is bang, want dit is gevaarlik vir hom, so gevaarlik soos wanneer 'n koning moet gaan oorlog maak.
25 Dit alles gebeur met hom omdat hy sy vuis gewys het vir God, omdat hy wou veg teen die Almagtige.
26 Hy het vir God probeer aanval soos 'n soldaat wat 'n sterk skild voor hom hou,
27 'n soldaat wat vet aan sy gesig en sy lyf gesmeer het.
28 Maar hy sal woon in stede wat verwoes is, in huise waar mense nie kan woon nie, huise wat net hope klippe sal wees.
29 Hy sal nie ryk wees nie, hy sal nie sy goed vir homself kan hou nie, sy goed sal nie saam met hom gaan in sy graf in nie.
30 Hy sal sterf, dit is seker. Hy is soos 'n boom, sy takke sal verbrand, die wind sal sy blomme wegwaai.
31 'n Mens moenie homself bedrieg en dink dat dinge hom kan help nie, dinge wat niks beteken nie. As hy dit dink, dan sál hy iets kry wat niks beteken nie.
32 Hy sal wees soos 'n boom wat doodgaan voordat dit sy tyd is, 'n boom wat nie nuwe groen takkies kry nie.
33 Hy sal wees soos 'n wingerdstok wat sy groen druiwe laat afval, of soos 'n olyfboom wat sy blomme op die grond laat val.’
34 Want wanneer mense bymekaarkom wat nie vir God wil dien nie, dan beteken die dinge wat hulle besluit, niks. Wanneer mense presente neem om verkeerd te doen, dan verbrand hulle huise.
35 Dit is die mense wat aanhou om te dink watter slegte dinge hulle kan doen, die mense wat verkeerd doen en wat ander mense bedrieg.”