1Job het gesê: “Ja, ek het self gesien wat gebeur, ek het dit gehoor en ek het dit verstaan.
2Ek weet ook die dinge wat julle weet, ek is so slim soos julle.
3Maar ek wil praat met die Almagtige, ek wil hê dat God moet hoor wat ek vir Hom wil sê.
4Want júlle hou aan om leuens te vertel, nie een van julle kan dit beter laat gaan met my nie.
5Dit sal beter wees as julle stilbly, dan sal 'n mens kan dink dat julle wysheid het.
6Julle moet asseblief luister na wat ek sê, julle moet probeer verstaan wat ek wil sê.
7Julle mag nie verkeerde dinge sê en dan sê dat julle praat om vir God te help nie. Julle mag nie leuens vertel en dink dat julle dit vir Hom doen nie.
8Julle kan nie sê dat God reg is en dat ek nie reg is nie, julle kan nie vír Hom wees en téén my wees nie.
9Dit sal sleg gaan met julle as Hy wil hoor wat julle sê, julle kan Hom nie bedrieg soos julle mense bedrieg nie.
10Hy sal julle straf, dit is seker, Hy sal julle straf as julle dink dat julle vir Hom wil help en niemand sal dit weet nie.
11Julle sal baie bang word as Hy begin praat, julle sal skrik vir die Almagtige God.
12Julle sê dat julle dinge onthou, maar dit beteken niks, die dinge wat julle sê, is soos as en klei.
13Julle moet nou stilbly sodat ek kan praat, dan kan met my gebeur wat met my moet gebeur.
14Ek weet ek speel met die dood.
15Ja, God sal my laat sterf, ek kan niks hoop nie, maar ek wil vir Hom duidelik sê wat ek voel.
16Miskien sal dit my help, want 'n mens wat nie vir God wil dien nie, sal nie voor Hom kan kom nie.
17Julle moet goed luister na wat ek praat, julle moet probeer verstaan wat ek sê.
18Ja, ek het gereedgemaak om voor die Regter te staan, ek weet dat Hy sal sê ek is onskuldig.
19As daar iemand is wat my kan beskuldig, dan sal ek stilbly, ek sal weet my lewe is verby.”
20“O God, U moet twee dinge nie aan my doen nie, dan sal ek nie probeer om weg te kruip vir U nie.
21U moenie my nog straf nie en U moenie vir my bangmaak vir U nie.
22Dan kan U my roep, en ek sal antwoord. Of ek sal eerste praat, dan kan U my antwoord.
23Sê vir my, hoe baie is my sondes? Sê vir my wat het ek verkeerd gedoen.
24Hoekom kyk U weg, hoekom dink U dat ek u vyand is?
25Ek is soos 'n blaar wat afgewaai het van 'n boom, ek is soos droë kaf. Hoekom wil U my bangmaak en hoekom wil U my volg en jaag?
26Hoekom laat U my so baie swaar kry, hoekom onthou U nog die sondes wat ek gedoen het toe ek jonk was?
27Dit is soos wanneer U my voete in 'n blok sit, dit is soos wanneer U kyk na elke tree wat ek gee.
28Ek is 'n mens wat sal sterf en sal verdwyn soos 'n ding wat vrot word, soos klere wanneer die motte dit vreet.