Job 12ABA

1Job het geantwoord, hy het gesê:

2“Is dit waar, is julle nou die enigste mense wat wysheid het!

3Ek het ook verstand soos julle, ek is nie dommer as julle nie. Almal weet die dinge wat julle sê.

4My vriende lag nou vir my. Ek het na God geroep en gevra dat Hy my moet antwoord. Ek het heeltemal reg gelewe, maar hulle lag vir my.

5As iemand self lekker lewe, dan dink hy dat hy kan spot met 'n man wat swaarkry, hy dink dat hy kan trap op 'n man wat val.

6Die mense wat alles wil verwoes, woon stil en rustig, hulle is nie bekommerd nie. Die mense wat vir God kwaad maak, voel veilig, hulle dink dat hulle met God kan doen wat hulle wil.”

7“Maar jy moet vir die diere vra, hulle sal vir jou leer, die voëls sal dit vir jou sê,

8jy moet vir die plante op die grond vra, hulle sal vir jou leer, die visse sal dit vir jou sê.

9Hulle almal weet dat die Here hierdie dinge laat gebeur,

10die Here besluit of 'n mens sal lewe, Hy besluit of 'n mens sal asemhaal.

11Ons het ore om te hoor wat woorde beteken, ons het tonge om te proe hoe kos smaak.

12Die wysheid kom wanneer jy oud geword het, jy word verstandig ná baie jare.”

13“Maar dit is die Here wat wysheid het en wat sterk is. Dit is Hý wat weet wat Hy doen.

14Wanneer Hy afbreek, dan kan niemand bou nie. Wanneer Hy 'n mens toesluit, dan kan niemand oopmaak nie.

15Wanneer Hy dit nie laat reën nie, dan is dit droog. Wanneer Hy reën stuur, dan verander die aarde.

16Die Here is sterk, Hy het ware wysheid, Hy regeer oor die mense wat ander mense bedrieg. Hy regeer ook oor die mense vir wie hulle bedrieg.

17Hy laat raadgewers van konings arm word, Hy laat regeerders dom dinge doen.

18Hy maak die bande los waarmee konings mense bind en Hy laat konings self die klere dra van slawe.

19Hy laat priesters arm word en Hy laat mense val wat dink dat hulle sterk is.

20Hy laat mense stilbly wat vir ander mense kan sê wat hulle moet doen en Hy keer sodat leiers nie goed kan dink nie.

21Hy verneder belangrike mense en Hy keer sodat sterk mense nie goed kan veg nie.

22Hy laat mense moeilike dinge verstaan, Hy maak lig waar dit donker is.

23Hy laat volke belangrik word en Hy laat hulle verdwyn, Hy laat volke groot word en Hy besluit wat met hulle sal gebeur.

24Hy laat die leiers van 'n land se mense onverstandig word, hulle weet nie wat hulle doen nie.

25Hulle word soos mense wat in die donker loop, soos dronk mense wat nie weet waarnatoe hulle gaan nie.”

© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Choose Translation

Switch translation for Job 12.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.