Job 11
1 Sofar van die land Naäma het begin praat. Hy het gesê:
2 “Jy het baie gepraat, en iemand moet jou antwoord, niemand moet dink dat jy reg was toe jy dit alles gesê het nie.
3 Ons kan nie stilbly wanneer jy al hierdie dinge sê nie, jy het gespot, en iemand moet wys dat jy verkeerd is.
4 Jy sê jy verstaan dinge reg, jy sê God weet dat jy onskuldig is.
5 Ek wens dat God self wil antwoord, ek wens dat Hy met jou wil praat
6 en dat Hy die geheime van die wysheid vir jou wil vertel, want ware wysheid het baie geheime. Jy moet weet dat God jou nie straf oor alles wat jy verkeerd gedoen het nie.
7 Kan jy uitvind hoe groot God is, kan jy uitvind of daar 'n plek is waar die Allerhoogste God nie regeer nie?
8 Jy kan soek, hoër as die hemel, dieper as die doderyk, maar jy sal nie kan uitvind hoe groot God is nie.
9 Jy sal dit ook nie kan uitvind as jy verder soek as die aarde en die see nie.
10 Wie kan vir God keer wanneer Hy verbykom en Hy sluit iemand toe in die tronk en Hy roep mense bymekaar om die persoon te oordeel?
11 Want God ken skynheilige mense, Hy weet wanneer iemand verkeerd doen.
12 'n Dwaas kan nie verstandig word nie, en 'n wildedonkie se vul is nie 'n mens wanneer hy gebore word nie.
13 Job, as jy verstandig wil wees en jy steek jou hande uit na God en jy bid,
14 as jy ophou om verkeerd te doen en daar is nooit sonde in jou huis nie,
15 dan sal jy onskuldig wees, jy sal nie skaam wees nie. Jy sal sterk wees en jy sal vir niks bang wees nie.
16 Want jy sal vergeet dat jy swaargekry het, jy sal dink dat dit soos water is wat verbygevloei het.
17 Die lig sal weer skyn in jou lewe, die donker dinge sal verander in lig.
18 Jy sal weer kan hoop, jy sal rondkyk en dan sal jy rustig gaan slaap.
19 Jy sal gaan lê en jy sal vir niemand bang wees nie, mense sal graag jou vriende wees.
20 Maar mense wat verkeerd doen, sal niks meer kan sien nie, hulle sal nie kan vlug nie, hulle sal net wag om te sterf.”