1Sofar van die land Naäma het begin praat. Hy het gesê:
2“Jy het baie gepraat, en iemand moet jou antwoord, niemand moet dink dat jy reg was toe jy dit alles gesê het nie.
3Ons kan nie stilbly wanneer jy al hierdie dinge sê nie, jy het gespot, en iemand moet wys dat jy verkeerd is.
4Jy sê jy verstaan dinge reg, jy sê God weet dat jy onskuldig is.
5Ek wens dat God self wil antwoord, ek wens dat Hy met jou wil praat
6en dat Hy die geheime van die wysheid vir jou wil vertel, want ware wysheid het baie geheime. Jy moet weet dat God jou nie straf oor alles wat jy verkeerd gedoen het nie.
7Kan jy uitvind hoe groot God is, kan jy uitvind of daar 'n plek is waar die Allerhoogste God nie regeer nie?
8Jy kan soek, hoër as die hemel, dieper as die doderyk, maar jy sal nie kan uitvind hoe groot God is nie.
9Jy sal dit ook nie kan uitvind as jy verder soek as die aarde en die see nie.
10Wie kan vir God keer wanneer Hy verbykom en Hy sluit iemand toe in die tronk en Hy roep mense bymekaar om die persoon te oordeel?
11Want God ken skynheilige mense, Hy weet wanneer iemand verkeerd doen.
12'n Dwaas kan nie verstandig word nie, en 'n wildedonkie se vul is nie 'n mens wanneer hy gebore word nie.
13Job, as jy verstandig wil wees en jy steek jou hande uit na God en jy bid,
14as jy ophou om verkeerd te doen en daar is nooit sonde in jou huis nie,
15dan sal jy onskuldig wees, jy sal nie skaam wees nie. Jy sal sterk wees en jy sal vir niks bang wees nie.
16Want jy sal vergeet dat jy swaargekry het, jy sal dink dat dit soos water is wat verbygevloei het.
17Die lig sal weer skyn in jou lewe, die donker dinge sal verander in lig.
18Jy sal weer kan hoop, jy sal rondkyk en dan sal jy rustig gaan slaap.
19Jy sal gaan lê en jy sal vir niemand bang wees nie, mense sal graag jou vriende wees.
20Maar mense wat verkeerd doen, sal niks meer kan sien nie, hulle sal nie kan vlug nie, hulle sal net wag om te sterf.”