Job 10
1 Job het gesê: “Ek het naar geword oor my lewe, ek sal sê hoekom ek kla, ek sal praat en sê hoe bitter ek is.
2 Ek sal vir God sê: U moenie sê ek is skuldig nie, U moet vir my sê hoekom U my voor U, die Regter, wil bring.
3 Dink U dit is reg dat U my verdruk? U self het my gemaak, maar U wys dat U dink ek is nie belangrik nie. Nee, U laat dit goed gaan met die planne van mense wat verkeerd doen.
4 Het U mens-oë, kyk U soos mense kyk?
5 Is u lewe so kort soos mense se lewens, is u jare so min soos 'n mens se jare?
6 Hoekom probeer U kyk wat ek verkeerd gedoen het, hoekom soek U sonde by my?
7 Is dit omdat U weet dat ek nie verkeerd gedoen het en dat niemand my van U kan red nie?
8 U self het my gemaak, en nou wil U my doodmaak.
9 U moet onthou, U het my gemaak soos 'n mens iets van klei maak. Wil U my nou laat teruggaan na die stof?
10 U het my gemaak soos 'n mens melk uitgooi en dit dikmelk laat word,
11 U het vir my vel en vleis gegee en U het my bene en senings aan mekaar vasgemaak.
12 U het vir my lewe gegee, U het vir my gedoen wat U moes doen, U het vir my gesorg,
13 maar ek weet nou wat U wou doen, U het dit altyd weggesteek.
14 U kyk wanneer ek sonde doen. As ek verkeerd doen, dan sal U nie sê dat ek onskuldig is nie.
15 As ek verkeerd gedoen het, dan sal dit sleg gaan met my, en as ek onskuldig is, dan sal U my nie vryspreek nie. Ek kry baie swaar, dit gaan net sleg met my.
16 Wanneer ek sterk voel, dan jag U my soos 'n leeu en dan wys U vir my dat U sterker is.
17 U bring elke maal nuwe getuies teen my, U word meer en meer kwaad vir my, dit is soos wanneer U 'n leër teen my sal stuur.
18 Hoekom het U gesê ek moet gebore word? Ek wens dat ek gesterf het voordat iemand my gesien het,
19 dan was ek nooit daar nie, hulle sou my na die graf gedra het dadelik nadat ek gebore is.
20 My lewe is baie kort, God moet my los, Hy moet my los sodat dit 'n bietjie beter kan gaan met my
21 voordat ek weggaan om nie weer terug te kom nie, weggaan na die donker, die baie donker land,
22 die land waar dit altyd donker is, baie donker, die land waar alles deurmekaar is, waar lig soos donker is.”