Bible

Upgrade

Your Church Presentations in Minutes

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Jeremiah 48

:
Afrikaans - ABA
1 Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, praat oor die land Moab. Hy sê: “Dit gaan sleg met die mense van Nebo, want die vyande het die stad verwoes. Die mense van die stad Kirjatajim weet nie wat om te doen nie, vyande het die stad oorwin en alles gevat. Die stad het sterk mure, maar die mense van die stad weet nie wat om te doen nie, hulle is baie bang.
2 Die mense van Moab was trots op die stad, maar die vyande het dit verwoes. Die vyande het in die stad Gesbon gekom. Hulle wil die stad verwoes, hulle wil dat niemand later sal weet van die stad nie. Mense van die stad Madmen, die vyande sal julle ook doodmaak, hulle sal julle jaag met hulle swaarde.
3 Die mense van die stad Goronajim skree en vra dat iemand hulle moet help, die vyande verwoes die stad en hulle breek die mure af.
4 Die land Moab is stukkend, die mense in die kleinste dorpies skree en vra dat iemand hulle moet help,
5 Ja, hulle loop huil-huil op na die stad Lugit, ja, hulle loop af na die stad Goronajim en hulle skree en hulle vra dat iemand hulle moet help, want die vyande het hulle dorpies verwoes.
6 Mense van Moab, julle moet vlug, julle moet julle lewens red, julle moet word soos wildedonkies in die woestyn.
7 Want julle het gedink die goed wat julle self gemaak het en alles wat julle het, kan julle help. Daarom sal die vyande julle wegvat, en hulle sal ook julle god Kemos wegvat, en sy priesters en sy amptenare saam met hom.
8 By elke stad sal mense kom wat die stad verwoes, hulle sal al die stede verwoes. Die vyande sal die valleie en die Hoëveld van Moab verwoes.” Die Here het dit gesê.
9 Die mense van Moab moet vlug, ja, hulle moet gaan, dit is seker. Die stede van Moab sal leeg word, niemand sal daar woon nie.
10 Mense wat die werk van die Here moet doen, julle moet weet dat die Here julle sal straf as julle die werk nie goed doen nie. Hy sal julle straf as julle nie die mense doodmaak wat julle moet doodmaak nie.
11 Dit het altyd goed gegaan met die mense van Moab, niemand het hulle gepla nie, hulle was so veilig soos die fyn stof wat afsak en onder in 'n kruik oorbly wanneer iemand die wyn in 'n ander kruik gooi. Vyande het nie die mense van Moab gevang en weggevat nie. Die mense van Moab het nie verander nie, hulle is soos die wyn wat nie verander het nie, dit smaak en ruik nog dieselfde.
12 Die Here sê: “Daarom, die tyd kom nou dat Ek mense na Moab sal stuur om sy mense weg te vat en sy stede te verwoes, soos wanneer mense wyn uitgooi en die kruike leegmaak en stukkend slaan.
13 Die god Kemos sal nie vir Moab kan help nie. Die mense van Israel het ook gedink die god Bet-El sal vir hulle kan help, maar hy kon nie.
14 Mense van Moab, julle julle is soldate en julle is gereed om te veg,
15 maar die vyande het gekom en hulle sal Moab en sy stede verwoes, hulle sal Moab se beste jong soldate doodmaak.” Dit die Here, Hy is die Koning wat oor alles regeer.
16 “Die tyd kom vinnig wanneer dit sleg sal gaan met Moab, dit sal gou gebeur.
17 Julle almal rondom Moab, julle wat die land ken, julle moet jammer wees vir hom en julle moet julle koppe skud, julle moet sê: ‘Moab het oor ander volke regeer, baie mense het hom gedien, maar Moab se septer het gebreek.’
18 Mense van die stad Dibon, julle moet afklim van julle mooi stoele, julle moet op die grond in die stof gaan sit, want die mense het gekom wat julle stad sal verwoes, hulle het julle sterk mure afgebreek.
19 Mense van die stad Aroër, julle moet langs die pad gaan staan, julle moet kyk, en wanneer daar mense kom wat vry weggekom het en wat vlug, dan moet julle vir hulle vra: ‘Wat het gebeur?’
20 Moab het die oorlog verloor, ja, hulle het bang geword. Julle moet huil en vra dat iemand hulle moet help, julle moet vir die mense by die Arnon-rivier vertel dat die vyande vir Moab verwoes het.
21 Die Here straf die mense op die Hoëveld, die mense van Golon, Jahesa, Mefaät,
22 Dibon, Nebo, Bet-Diblatajim,
23 Kirjatajim, Bet-Gamul, Bet-Meon,
24 Kerijot en Bosra, al die stede in die land Moab, ver en naby.
25 Die Here sê: “Moab was sterk maar nou is hy swak, hy is soos 'n man met 'n af arm.”
26 Julle moet Moab dronk maak totdat hy opgooi, want hy het gedink hy is belangriker as die Here. Die ander volke moet vir hom lag.
27 Moab, dit sal met jou gebeur omdat jy vir Israel gelag het soos 'n mens lag vir 'n dief wanneer jy hom vang. Ja, jy het oor Israel gepraat, maar nou moet jy jammer wees vir jouself en jy moet jou kop skud vir jouself.
28 Mense van Moab, julle moet weggaan uit die stede, julle moet tussen die rotse gaan woon, julle moet word soos duiwe wat hulle neste maak in die kante van diep gate.
29 Ons het gehoor die Moabiete is hoogmoedig en trots, hulle dink hulle is belangrik en wonderlik en beter as ander volke.
30 Die Here sê: “Ek weet self hoe hoogmoedig die Moabiete is, maar hulle het niks waaroor hulle kan spog nie, hulle moet dit nie doen nie.
31 Daarom sal Ek huil oor die Moabiete, Ek sal skree oor al die Moabiete en Ek sal vra dat iemand hulle moet help, Ek sal sug oor die mense van die stad Kir-Geres.
32 Wingerde van die stad Sibma, Ek sal huil oor julle, meer as wat Ek sal huil oor die stad Jaser. Die ranke van die wingerde gaan tot by die see, tot by Jaser. Die vyande het gekom om die vrugte en die druiwe te verwoes.
33 Niemand sing en juig nog in die tuinland, in Moab nie. Ek het die wyn laat wegraak uit die parskuipe, niemand trap nog die druiwe en sing nie.”
34 Die mense van Gesbon skree en vra iemand moet hulle help, die mense kan dit hoor in die stede Elale en Jahas, in Soar en Goronajim en Eglat-Selisija, want die water by Nimrim is ook op.
35 Die Here sê: “Ek sal die Moabiete laat sterf wat na die offer-plekke gaan en offers bring vir hulle gode.
36 Dit is hoekom ek kla oor die Moabiete, oor die mense van Kir-Geres. Ek kla soos mense wat hartseer is en fluite blaas, want al hulle goed wat hulle gebêre het, is weg.
37 Ja, al die mense het hulle koppe kaal geskeer en hulle baarde afgeskeer, hulle het hulle hande stukkend gesny en rouklere aangetrek,
38 die mense rou op al die dakke en op die oop stukke grond, want Ek het Moab gebreek soos 'n kleipot wat niemand wil nie.” Dit die Here.
39 Die Moabiete is bang, hulle huil en vlug, want hulle het verloor in die oorlog. Al die volke rondom die Moabiete lag oor wat met hulle gebeur het, en mense skrik wanneer hulle dit sien.
40 Ja, die Here sê: “Kyk, die vyande sal afkom soos aasvoëls en hulle sal oor Moab vlieg.
41 Hulle sal die stede oorwin, ook die stede wat sterk mure het. “Die soldate van Moab sal daardie dag so bang word soos 'n vrou wanneer haar baba gebore moet word.
42 “Die vyande sal die Moabiete doodmaak, hulle sal nie meer 'n volk wees nie, want hulle het gedink hulle is belangriker as die Here.”
43 Die Here sê: “Mense van Moab, julle sal skrik en in vang-gate val, die vyande sal julle in vangnette vang.
44 Iemand wat skrik en vlug, sal in 'n vang-gat val, iemand wat uit 'n vang-gat klim, sal in 'n vangnet vassit, want Ek sal die tyd laat kom wanneer Ek vir Moab sal straf.” Dit die Here.
45 Die mense wat vlug, staan in die skaduwee van die stad Gesbon, hulle het nie meer krag nie, want 'n vuur het uit Gesbon en Sihon gekom en dit het die koppe verbrand van die Moabiete wat so gespog het.
46 Moabiete, dit sal sleg gaan met julle, die vyande het die volk van Kemos oorwin, want hulle seuns en hulle dogters is gevangenes, die vyande vat hulle weg.
47 Maar die Here sê: “Ek sal dit later weer goed laat gaan met die Moabiete.” Dit is wat die Here gesê het oor Moab.