Jeremiah 47
1 Die profeet Jeremia het gehoor die Here praat met hom oor die Filistyne. Dit was voordat die farao die stad Gasa oorwin het.
2 Die Here het gesê: “Die vyande kom uit die noorde, hulle kom soos baie water, hulle vloei soos 'n groot rivier, hulle vloei oor die land en oor alles in die land, oor die stede en oor almal wat in die stede woon. Die mense skree en vra iemand moet hulle help. Almal wat in die land woon, huil,
3 want hulle hoor hoe die pote van die vyande se perde stamp, hulle hoor hoe hulle oorlogkarre se wiele raas. Pa’s vlug en draai nie om nie, hulle neem nie hulle kinders saam nie, hulle is bang, hulle hande hang pap.
4 Die dag het gekom, die Here verwoes al die Filistyne, Hy maak almal dood wat vir Tirus en Sidon kan help. Ja, die Here maak al die Filistyne dood, al die mense wat van die eiland Kaftor kom en wat nog lewe.
5 Die mense van Gasa het hulle koppe kaal geskeer. Die vyande het die mense van Askelon stilgemaak. Mense wat oorgebly het op die kus-vlakte, hoe lank sal julle nog rou en julleself stukkend sny?
6 Swaard van die Here, dit gaan sleg terwyl jy aanhou om mense dood te maak, jy moet teruggaan in jou sak, jy moet rus en stil wees.
7 Maar hoe kan die swaard van die Here rus? Want dit is die Here wat die swaard gestuur het teen Askelon en die land by die see.”