Isaiah 57ABA

1Die mense wat doen wat die Here wil hê, sterf. Dit is slegte mense wat hulle laat sterf.

2Mense wat reg lewe, het vrede wanneer hulle sterf en in hulle graf lê.

3Maar julle wat dink julle weet wat ander mense nie kan weet nie, julle wat by ander mans se vroue slaap, kom hiernatoe.

4Vir wie spot julle, vir wie steek julle tong uit? Oor wie is julle bly omdat dit sleg gaan met hulle? Julle is opstandig teen die Here en julle is vals.

5Julle dien afgode onder die groot bome, onder elke groen boom. Julle slag julle kinders en offer hulle in die berge onder die rotse wat oorhang.

6Julle dink die gladde klippe in die valleie sal julle gelukkig maak, en julle bring vir hulle drank-offers en koring-offers. Die Here vra: “Moet Ek daarmee tevrede wees en niks doen nie?

7Julle het vir julle beddens gemaak op die hoë berge en julle het daarnatoe opgeklim om offers te bring.

8Julle het beelde agter die deure in julle huise gesit. Julle het weggegaan van My en julle het ander gode gedien. Julle is soos 'n slegte vrou wat haar klere uittrek en by 'n ander man in die bed klim, en dit is vir haar lekker om na sy kaal liggaam te kyk.

9Julle het baie olyf-olie en wierook geneem en julle het die afgod Molek gaan dien. Julle het boodskappers gestuur om nog gode te soek in ver plekke, ook in die doderyk.

10Julle het so baie gesoek dat julle moeg geword het, maar julle het nie opgehou nie. Julle was altyd lus vir nog afgode, daarom het julle aangehou.

11Vir wie was julle bang? Hoekom het julle aangehou om vir My te lieg? Hoekom dink julle nie meer aan My nie? Hoekom is julle nie bang vir My nie? Is dit omdat Ek so lank stilgebly het?

12Julle dink julle het reg gedoen, maar Ek sal nou praat oor wat julle gedoen het, en julle gode sal julle nie kan help nie.

13Dit is julle klomp gode wat julle moet red wanneer dit sleg gaan met julle, maar hulle almal beteken niks, 'n sagte windjie waai hulle weg. Die mense wat wil hê Ek moet hulle beskerm, sal die land kry, en hulle sal op my gewyde berg kom woon.”

14Die Here sê: “Julle moet 'n pad bou, julle moet 'n pad bou, julle moet 'n pad maak vir my volk, en julle moet alles wegvat wat in hulle pad is wat hulle keer.”

15Ja, die Here praat. Hy woon hoog in die hemel en Hy lewe vir altyd. Sy Naam is Heilige God, en Hy sê: “Ek woon in die hoë hemel, in die heilige hemel, maar Ek is ook by die mense wat nederig is, by mense wat weet hulle is onbelangrik en niks. Ek gee vir hulle nuwe lewe.

16Ja, Ek sal nie aanhou om hulle te straf nie, Ek sal nie altyd kwaad bly nie, want as Ek kwaad bly, sal hulle nie kan aanhou lewe nie. Die asem wat Ek vir hulle gegee het, sal verdwyn.

17Ek was kwaad omdat hulle nooit tevrede was met die dinge wat hulle het nie. Daarom het Ek hulle geslaan en Ek wou hulle nie sien nie. Hulle was opstandig, hulle het gelewe soos hulle self besluit het.

18Ek het gesien hoe dit met hulle gaan, maar Ek sal hulle gesond maak. Ek sal hulle lei en dit sal weer goed gaan met hulle. Hulle huil en treur nou,

19maar Ek sal hulle laat sing. Dit sal weer goed gaan met hulle, oral waar hulle is, ver of naby. Ek sal hulle gesond maak.” Dit sê die Here.

20“Maar mense wat aanhou om verkeerd te doen, is soos die see wanneer daar 'n storm is. Dan is die water vuil en vol modder.

21Dit sal nie goed gaan met mense wat aanhou om verkeerd te doen nie.” Dit sê my God.

© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Choose Translation

Switch translation for Isaiah 57.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.